Senwes se besluit om op die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) te noteer, is vir eers uitgestel.
Luidens ‘n berig op Fin24.com het die maatskappy dié stap op sy webtuiste aangekondig.
Die proses om te noteer sal steeds in die komende jaar aandag geniet, maar van die voorwaardes vir die voorbereiding van die stap is nog uitstaande. Die maatskappy het derhalwe besluit om die stap “tot ‘n latere stadium” uit te stel.
Tussentydse resultate
Die maatskappy se resultate vir die eerste ses maande van die boekjaar, tot en met 31 Oktober, het ‘n omset van R4,1 miljard getoon, in vergelyking met die R4,7 miljard aangeteken vir dieselfde tydperk in die vorige geldjaar.
Die wins ná belasting het op R90,2 miljoen te staan gekom, wat 39% laer is as die R146,7 miljoen wat vir die ooreenstemmende tydperk in die vorige boekjaar aangeteken is. Die verskil word toegeskryf aan die feit dat die grootste deel van die maatskappy se graaninkomste eers in die tweede helfte van die jaar sal inkom.
“Die raad is egter tevrede dat die resultate die huidige sakesiklus en ekonomiese toestande weerspieël, wat bevestig dat die maatskappy op ‘n gesonde sakeplatvorm bestuur word,” lui die berig.
Lees ook:
Senwes nie reg vir notering (2009)
Senwes gerat vir notering (2010)
10 Desember 2010