
Met twee opeenvolgende droogtejare vars in die geheue was die vooruitsigte vir die afgelope graanseisoen allermins rooskleurig, maar die gunstige produksietoestande wat eindelik gerealiseer het, het die bordjies verhang en gelei tot die tweede grootste Suid-Afrikaanse mielie-oes nog. Hierdie herstelvermoë van die landbou reflekteer ook duidelik in Senwes se eerste ses-maande resultate vir die 2015 finansiële jaar, sê mnr. Francois Strydom, besturende direkteur van Senwes, in 'n nuusverklaring.
“Die verwagte herstelpad na normaal sou twee tot drie seisoene duur, maar dié verval is in een seisoen gestuit. Die 41%-styging in die genormaliseerde wesensverdienste tot 31 Oktober 2014 dui daarop dat die herstel vinnig en robuust was – en boonop hoe onvoorspelbaar en volatiel die landbou is.”
Senwes se omset het met 5,5% tot R5,3 miljard gegroei en die bruto wins het teruggekeer tot R579 miljoen vanaf R499 miljoen einde Oktober verlede jaar. 'n Netto wins ná belasting van R114 miljoen is vir die ses maande tot 31 Oktober 2014 behaal, wat 34,5% laer is as die ooreenstemmende vorige jaar tydperk. 'n Wins ten bedrae van R118 miljoen uit die kleinhandelsbesigheid-samevoeging met AFGRI is ingesluit in die vorige jaar se wins na belasting van R174 miljoen.
Die balansstaat het heelwat vinniger herstel en die opbrengskoerse het verhoog. Kontantvloei van R294 miljoen is uit bedrywighede gegenereer en R23 miljoen is teruggeploeg in kapitaalprojekte. Die netto batewaarde per aandeel het verhoog van R9,58 per aandeel op 30 April 2014 na R10,06 per aandeel teen einde Oktober 2014, selfs nadat ‘n finale dividend van 22 sent per aandeel in September vanjaar betaal is.
‘n Tussentydse dividend van 24 sent per aandeel (2013: 26 sent per aandeel) is verklaar vir alle aandeelhouers geregistreer op die register van 8 Desember 2014 en sal betaal word teen 12 Desember 2014.