
Senwes se wins ná belasting vir die geldjaar geëindig 30 April 2012 het met 21,6% tot R265 miljoen gestyg, terwyl ’n 21,5% opbrengs op ekwiteit behaal is. Wesensverdienste vir die tydperk het met 14,3% toegeneem, van 116,2c per aandeel vir die vorige geldjaar tot 132,8c per aandeel vir die afgelope geldjaar.
Luidens ’n verklaring het die landbou-onderneming se omset ’n hupstoot van 73,5% gekry tot R13 miljard. Dít word hoofsaaklik aan die styging in kommoditeitspryse toegeskryf.
Te midde van die hoër kommoditeitspryse het die maatskappy R508 miljoen se kontant uit bedryfaktiwiteite gegenereer, en ’n eiekapitaalverhouding van 41% is aangeteken. Die netto batewaarde het van R6,80 per aandeel in April verlede jaar het tot R7,57 per aandeel in April toegeneem.
’n Finale dividend van 15c per aandeel is afgekondig en is onderhewig aan bekragtiging deur aandeelhouers.
Mededinging in die landbou
Volgens die onderneming het mededinging in die landbousektor buitegewoon toegeneem, ’n sektor wat geteiken word deur beleggers as laaste toevlugsoord vir ’n wêreldekonomie wat daadwerklik probeer ontsnap van ’n volgehoue resessie.
Mnr. Francois Strydom, besturende direkteur, sê die onderneming is in die proses om homself strategies te posisioneer binne die milieu van groter integrasie tussen die produsent en eindverbruiker, tesame met ? onafwendbare groter deelname in die waardeketting van graan.
Vooruitsigte vir die seisoen
Produksie is plaaslik onder druk weens die droogtetoestande wat tydens die tweede helfte van die somer voorgekom het. Die maatskappy voorspel dat ’n moeilike graanbergingsjaar voorlê, veral weens lae openingsvoorraadvlakke en ’n gemiddelde verwagte oes wat laer voorraad tot gevolg kan hê.
Die maatskappy verwag egter dat die goeie vlak waarop kommoditeitspryse tans verkeer, produksie kan stimuleer. “Verbruikers sal wêreldwyd na verwagting steeds gebuk gaan onder stram ekonomiese toestande en voorraadvlakke sal herstel weens hoër produksie en laer verbruik.”
Verder word veranderinge aan die landskap en dinamika van landboudienste voorspel, weens “heelwat korporatiewe aksie in die komende maande in hierdie sektor”.