Senwes het in die eerste ses maande van die boekjaar sy “bullopie” voortgesit met ’n wins ná belasting van R113 miljoen.
Luidens ’n verklaring is die groep in sy skik met dié wins, wat hoër is as die R90 miljoen wins ná belasting wat tydens die vorige interimtydperk aangeteken is.
Die groep se omset vir die tydperk het op R7,3 miljard te staan gekom. Sy wesensverdienste is 66,9 c per aandeel, wat 34,3% hoër is as die wesensverdienste vir die ooreenstemmende tydperk in die vorige boekjaar.
Mnr. Francois Strydom, besturende direkteur, sê ten ondanks ’n verhoging van 46% in kommoditeitspryse en gevolglik bedryfskapitaal, is R33 miljoen se kontant gegenereer.
Die netto batewaarde het sedert jaareinde van R6,80 per aandeel tot R7,14 per aandeel toegeneem. ’n Tussentydse dividend van 20 c per aandeel is verklaar.
Bedryfsoorsig
Senwes Credit, die groep se kredietdiens, sê weens ’n hoër graanprys en goeie opbrengste kon boere produksieskuld teen ’n stywe pas terugbetaal. Derhalwe was die groep se produksieskuld vir dié tydperk die laagste wat dit in die afgelope vyf jaar was.
Senwes Village, die groep se fokus op meganisasie en handelsnetwerke, het ’n verbetering van 81% in bedryfsresultate voor belasting aangeteken. Die gunstige boerderymarge op die 2010/’11-oes, ’n verswakking in die rand teenoor die dollar en die kapitaalvervangingsiklus wat die vorige twee seisoene verlangsaam het, het ’n gunstige meganisasiejaar voorspel.
Senwes Grainlink, die groep se afdeling vir graanopberging en marktoegang, het ’n wins voor belasting van R117 miljoen aangeteken, wat aan verskeie nuwe insiatiewe binne die afdeling toegeskryf word. Nóg ’n rede wat vir dié groei gegee word, is dat boere die kans vir uitvoer aangegryp het met graanpryse onder uitvoerpariteit en ’n kleiner oes.
Vooruitsigte
Die groep verwag dat die vinniger versporingsdiens graanvoorraadvlakke kan benadeel, wat silo-opbergingsinkomste in die tweede helfte van die boekjaar onder druk kan plaas. Laer graanvoorraadvlakke sal ook die sakebasis van die verhandelingskamer benadeel, maar deelname aan uitvoertransaksies sal dít moontlik versag.
Senwes het hoë sakevertroue in die oorblywende deel van die boekjaar wat op gunstige kommoditeitspryse, verhoogde aanplantingsvoornemens en goeie oordragvog gegrond word. ’n Sterk insetjaar word verwag as lae of laat reënval nie voorkom nie.
6 Desember 2011