Aandeelhouers in Senwes Beperk het ’n aangename verrassing gekry in die vorm van ’n tweede tussentydse dividend van 25 sent per aandeel.
Die rekorddatum vir die diwidend was 12 Maart en die betaaldatum is 23 Maart 2012. Volgens die maatskappy se raad van direkteure is dié besluit gegrond op die maatskappy se “huidige positiewe balansstaatposisie en die wysigings tot die belastingwetgewing wat op 1 April 2012 in werking tree’.
Senwes het aandeelhouers in kennis gestel dat die groep se verwagte wesensverdienste per aandeel (WVPA) vir die jaar tot 30 April 2012 met tussen 3% tot 13% sal styg, terwyl die verdienste per aandeel (VPA) na verwagting met tusen 10% tot 20% sal styg in vergelyking met die vorige finansiële jaar se syfers.
Volgens Senwes is die groot verskil tussen die WVPA- en die VPA-verhogings hoofsaaklik geleë in die onsekerheid of die reorganisasie van die buitelandse besigheid vóór die finansiële jaareinde op 30 April 2012 gefinaliseer sal wees.
* Senwesbel Beperk, Senwes se houermaatskappy, het terselfdertyd ook ’n tweede tussentydse dividend van 13 sent per aandeel aangekondig. Die rekord- en betaaldatums van die dividend is dieselfde as dié vir die Senwes-dividend.
12 Maart 2012