
Ses perde het Sondagoggend (26 Augustus 2012) ’n wrede dood gesterf toe die stalle waarin hulle aangehou word, vermoedelik aan die brand gesteek is.
Mnr. Willie Basson en sy vrou, Petro, het omstreeks 04:30 die oggend besef daar is ’n brand by die stalle waarin hul agt perde aangehou word.
Luidens ’n berig in Beeld het Basson gaan ondersoek instel en op ses verkoolde perde afgekom. Twee van die perde, ’n tweejarige merrie en ’n vierjarige hings, kon uit die stalle breek en het oorleef.
Die brand het vermoedelik tussen 02:00 en 04:00 ontstaan.
Brandstigting
’n Saak van brandstigting word tans ondersoek. Basson se stalkneg het aan hom gesê dit wil voorkom of iemand aan albei kante van die stal vuurgemaak het en sodoende gekeer het dat die perde uit die stalle kon kom.
Volgens Basson het hy in 12 jaar nog nooit ’n brand op sy eiendom gehad nie, en het hy onlangs voorbrand om die stalle gemaak. Die enigste kragprop in die stalle was ook afgeskakel.
Die vermoede bestaan dat die brand verband hou met vyf van die egpaar se werkers wat onlangs te midde van ’n arbeidsdispuut die hoewe verlaat het.
Bron: Beeld