
Ses van die verdagtes is gisteraand in die Vhembe-distrik
vasgetrek. Daar is beslag gelê op agt vuurwapens en kontant in rand,
Amerikaanse dollar en Britse pond.
Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, sê ’n ondersoekspan is aangestel ná die rooftog op 27 Desember verlede jaar waartydens vyf verdagtes die plaashuis betree en ’n Toyota Land Cruiser, 11 vuurwapens, ’n skootrekenaar, kontant en ander besittings gebuit het.
Die span het na aanleiding van inligting wat ontvang is, die verdagtes in die Vhembe-distrik op die dorpies Makushu, Musekwa en Tshituni, asook die plaas Greater Kuduland opgespoor.
Benewens die vuurwapens en kontant wat in die verdagtes se besit gevind is, het die polisie ook beslag gelê op 188 patrone, ’n nagsig-kamera, Nikon-verkyker, verskeie munte en juweliersware.
Vier van die verdagtes, wat almal tussen die ouderdom van 27 en 38 is, is Suid-Afrikaans en twee is buitelanders. Hulle verskyn volgens Mojapelo binnekort in die Musina-landdroshof op aanklagte van huisroof, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, asook die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
Nog twee verdagtes is by die Matswale-nedersetting buite Musina en by Tshituni in hegtenis geneem is.
Die polisie soek nog na verdere verdagtes en die Toyota Land Cruiser (registrasienommer DHG 739 L).
Enigiemand met inligting word versoek om lt.kol. Mukondeleli Mildred Muenda by 079 227 0632, Crime Stop by 08600 10111 of hul naaste polisiekantoor te kontak.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.