Die afvalprodukte van ‘n geslagte bees en skaap kan onderskeidelik 31 kW-uur en 19 kW-uur se elektrisiteit opwek. Dié “sesde kwart” kan in die toekoms ‘n lekker inkomste-stroom vir vleisprodusente word.
Mnr. Otto Hager van die maatskappy iBERT het by die Rooivleis Abattoirvereniging se konferensie in Stellenbosch die term “sesde kwart” gebruik om te verwys na “alles wat agterbly en wat abattoirs nie weet wat om mee te maak nie”. Dit sluit in bloed, maaginhoud, mis en vet.
“My voorstel is om dit te herwin en biogas daarvan te maak,” het hy gesê. “In die verlede het dit agterweë gebly of is dit verbrand, maar dit raak nou ‘n probleem vir slagpale. Dit kan egter in ‘n inkomste omskep word.”
Hy sê ‘n bees se sesde kwart weeg gemiddeld 36 kg. Dit kan 81,6 kWh se energie opwek, wat herlei word tot 31 kWh se elektrisiteit. ‘n Skaap lewer gemiddeld 24,6 kg se afvalmateriaal. Dit kan 19 kWh energie, of 7 kWh elektrisiteit, verskaf. Teen ‘n gemiddelde prys van R1,10 per kW kan ‘n produsent byna R100 per bees en R20 per skaap ekstra in sy sak steek.
Hager sê daar bestaan nog nie op die oomblik ‘n mark hiervoor nie, maar hy is “seker dit sal binnekort ontwikkel”.
14 Mei 2012