Die afvalwater van hidrouliese breking in die Karoo sal veilig in houers opgeberg word totdat dit later behoorlik van kant gemaak word, beloof Shell SA.
Luidens ’n berig op News24.com het mnr. Jan Willem Eggink, hoofbestuurder van stroomop-werksaamhede by Shell SA, dié stelling op ’n vergadering met die Kaapstadse Persklub gemaak.
Volgens Eggink sal die groep nie aanspraak maak op die beperkte voorraad drinkwater in die distrik vir dié eksplorasiemetode vir skaliegas nie. Hy sê hulle verstaan dat dié kwessie ’n ernstige een is, veral vir boere, derhalwe sal water van elders ingebring word.
Watergehalte en geld
Volgens Eggink lê die natuurlike skaliegas wat tydens die brekingsproses geproduseer sal word, duisende meters onder die grond.
“So dit is byna onmoontlik vir vloeistof – of dan gas – om die drinkwatervoorraad te bereik deur krake wat deur die hidrobreking veroorsaak is.”
Intussen berig Engineering News dat die oliereus tot $200 miljoen kan belê tydens enige moontlike prospekteerstadium in die Karoo, as hy ’n lisensie kry om voort te gaan. Dít is glo blykbaar net ’n breukdeel van wat belê kan word as die ontginning van skaliegas kon plaasvind.
Eggink sê as hulle ’n lisensie kry, sal hulle ten minste ses skagte binne die eerste drie jaar van lisensiëring sink. “As die resultate bemoedigend is, sal ons meer skagte wil sink.”
Belangstelling
Luidens News24.com het Eggink ook aangedui dat as die Regering se moratorium op die eksplorasie van skaliegas onbepaald voortgaan, Shell belangstelling in die projek kan verloor.
“Op ’n sekere punt gaan die maatskappy belangstelling in die belegging verloor. As dit gebeur, hoop ek dié wat ná ons kom, sal ook aan die hoë standaarde voldoen wat ons daargestel het,” aldus Eggink.
Me. Susan Shabangu, die Minister van Minerale Hulpbronne, het vroeër die jaar ’n moratorium op die eksplorasie van gas in Suid-Afrika ingestel ná hewige openbare teenkanting teen Shell se beoogde projek.
2 September 2011