
Dit was die boodskap van mnr. Pierre Vercueil, Agri Noordwes se voorsitter, tydens dié groep se Jongboer-konferensie op Lichtenburg verlede week. Vercueil het aan die afgevaardigdes gesê transformasie bied geleenthede vir Suid-Afrikaanse boere, maar die benadering moet reg wees.
“Owerhede se uitlatings en die huidige politieke klimaat stem baie boere negatief en hulle verlaat die land, maar daar is tog ook geleenthede vir boere wat die regte ingesteldheid het en geleenthede wil benut,” het hy gesê. Vercueil het bygevoeg die geleentheid vir boere lê daarin om geleenthede te skep vir diegene wat nie in ’n landbou-omgewing grootgeword het nie.
“Transformasie is ’n werklikheid en vir die boer van die toekoms lê daar ’n besigheidsgeleentheid hierin. Die ruggraat van Suid-Afrikaanse landbou lê in sy familiebesighede. Hierdie besighede kan egter uitgebrei word deur aandeelhouding, maar ook deur vaardige mense in diens te neem. Die permutasies is geweldig wyd om dit te laat werk,” het hy gesê.
Dit mag egter nie gebruik word net om owerhede van ’n boerdery se rug af te hou nie, het Vercueil gesê. “Dit moet vir die regte redes gedoen word en deel gemaak word van die boerderystrategie.” Vercueil het gesê daar gaan ’n radikale verandering in die Suid-Afrikaanse landbou plaasvind, maar dat boere in ’n gunstige posisie verkeer, aangesien die bevolking van die land groei en hulle gevoed moet word.
“Die onus rus dus op die boere van vandag om die geleenthede daarin raak te sien en dit aan te gryp,” het Vercueil gesê. Hy het daarop gewys dat elke Suid-Afrikaner in dieselfde omstandighede verkeer. “Ons is almal in dieselfde bootjie, want ons soek stabiliteit en vrede. Die verantwoordelikheid om daardie stabiliteit in die toekoms te bewerkstellig lê by die jong boere van vandag,” het Vercueil gesê.