
Sedert Mei is alle silosertifikate in Suid-Afrika digitaal.
“Dit is 'n belangrike mylpaal vir die Suid-Afrikaanse graanbedryf,” het mnr. Chris Sturgess, direkteur van die JSE se kommoditeitsmark vir afgeleide instrumente (voorheen Safex) by die JSE se stalletjie by die Nampo-oesdag gesê.
Die digitaliseringsproses het al in 2003 begin, maar daar was rolspelers wat jare lank nog papiersertifikate verkies het. “Almal is nou oortuig dat hulle die stelsel kan vertrou.”
Kan graan vinniger oordra
Die voordele van digitale sertifikate is volgens Sturgess dat eienaarskap van graan vinniger en doeltreffender oordraagbaar is, geld gespaar word omdat dit koerierkoste uitsny, en daar nie meer die risiko is dat papiersertifikate verlore kan raak deur byvoorbeeld kapings nie.
“Voorheen sou 'n papiersertifikaat per koerier van die boer na 'n handelaar gestuur word, wat twee dae kon neem,” sê Sturgess.
Nou kan eienaarskap van voorraad op dieselfde dag en op 'n veiliger manier verander deur die Electronic Silo Certificates (ESC)-stelsel te gebruik, sê hy.
Net drie minute
Mnr. Brett Riley, uitvoerende hoof van ESC (geregistreer as Silocerts), sê dit duur sowat drie minute om 'n transaksie op ESC af te handel.
Die stelsel het meer as 5 000 kliënte, wat produsente, handelaars en banke insluit. In 2015/’16 het ESC meer as 13 000 sertifikate vir 3,4 miljoen ton graan uitgereik. Die waarde hiervan was R12,3 miljard.
Riley sê nou dat alle sertifikate elektronies is, sal die volume na verwagting styg.
Oproepsentrum help
Die meeste kliënte gebruik hul rekenaars om toegang tot die stelsel te kry, maar daar is ook 'n oproepsentrum, sodat 'n boer 'n sertifikaat kan verskuif selfs as hy nie voor 'n rekenaar is nie.
Die digitale sertifikate vergemaklik volgens Riley finansiering en bied naspeurbaarheid, wat bedrog, soos duplisering van papiersertifikate, voorkom.
PriceWaterhouseCoopers is die ouditeur van die stelsel en beskerm dit teen kuberkrakers.
Volgens Sturgess word dieselfde stelsel vir graankontrakte op die Zambiese kommoditeitsbeurs Zamace gebruik, waar termynkontrakte vir graankommoditeite in vennootskap met die JSE verhandel word. Slegs digitale sertifikate is vanuit die staanspoor daar gebruik.