Nie net is daar vanjaar reeds 83 van mnr. John Gary Wardle se skape gesteel nie maar die diere word ook vermink voor hulle opgelaai word.
Wardle (42) sê die ergste is die wyse hoe die misdadigers die laaste 27 dragtige ooie oor die verloop van vier dae vermink het voor hulle opgelaai sou word, sê mnr. John Gary Wardle (42) van die plaas Arundel by Thomasrivier, Cathcart.
Wardle se plaas grens aan die N6-roete tussen Fort Beaufort en Queenstown. Hy sê die diewe kom in die nag, breek die skape se agterbene en laat hulle in die veld totdat dit deur ’n motor opgelaai kan word. Ook sy buurman, mnr. Peter Hardy, se vee is vermink en gesteel.
“Ek moes die dragtige ooie skiet wat vermink in die veld gelê het. Net die afgelope week se skade beloop meer as R50 000.” Wardle het aan Landbouweekblad gesê dat vier vermeende diewe Dinsdagaand in ’n padblokkade vasgetrek is.
Wreed
Hulle het twee skape in hul motor gehad en het erken dat hulle by die diefstal betrokke was. Almal kom van Oos-Londen en daar is beslag gelê op hul voertuig, ’n Ford Lazer.
Wardle se vrou, Quinta, het van die foto’s van die verminkte diere op haar Facebook-blad gelaai. “Mense moet besef hoe wreed dié diewe is,” het sy gesê. Dr. Pieter Prinsloo, voorsitter van die Oos-Kaapse RPO, sê hy is verlig die diewe is aangekeer.
Hy het die polisie geloof vir hul samewerking om die misdadigers vas te trek. “Die voorval is veel eerder dieremishandeling – hulle gee nie ’n hel om vir die lyding van die diere nie,” het ’n ontstelde Prinsloo gesê.
11 November 2011