
Die nuwe reël, wat vroeër vanjaar aanvaar is, moes op 24 Junie in werking getree het. Die EU het die sitrusbedryf se versoek toegestaan vir ’n grasietydperk voor die nuwe reël in werking tree waarvolgens Suid-Afrikaanse lemoene kouesterilisasie moet ondergaan voor dit daarheen verskeep mag word. Lemoene word van die reël vrygestel mits hulle voor 14 Julie in Europa aankom.
Die nuwe reël bepaal dat lemoene uit Suid-Afrika en Zimbabwe kouesterilisasie moet ondergaan, wat beteken dat dit voor verskeping by die uitvoerhawe tot 5 °C afgekoel moet word en dan vir 25 dae voor verskeping tot tussen -1 °C en -2 °C afgekoel word. Boere moet ook die nuwe fitosanitêre sertifikaat hê wat aandui dat die lemoene in ’n gemagtigde gebied gekweek is.
Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die SASKV, sê in sy nuutste nuusbrief die gebeure van die afgelope paar maande bewys dat die regulasies wat die handel van vars produkte reguleer, nie op wetenskap gegrond word nie.
Volgens hom bewys die tydlyn waarvolgens die nuwe reël aanvaar is dat dit niks anders as politiekery is nie. Die Europese kommissie se staande komitee op plante, diereprodukte, voedsel en voer het op 29 April sy stemming oor die reël tot Mei uitgestel.
Chadwick sê dit het Spanje so ontstel dat mnr. Luis Puchades, Spanje se minister van landbou, se pos in gedrang was. Puchades het op 3 Mei na Brussel gevlieg waar hy met die Europese kommissie se direktoraat-generaal vir landbou en landelike ontwikkeling vergader het. Daar is blitsvinnig ná die vergadering nog ’n vergadering met die komitee belê en die nuwe reël is aanvaar.
Chadwick sê die EU se amptelike standpunt is dat maatreëls noodsaaklik, regverdig, proporsioneel en haalbaar moet wees. Die nuwe reël voldoen volgens hom nie aan ’n enkele van dié vereistes nie.
Eerstens, die nuwe reël is volgens hom nie noodsaaklik nie aangesien Suid-Afrikaanse sitruskwekers reeds ’n gevorderde benadering tot die bestuur van valskodlingsmot neem. Dit sluit verskillende protokolle vir kouebehandeling en die kategorisering van vrugte in fitosanitêre risikokategorieë in. Die protokolle vir kouebehandeling word aangepas volgens die risikoprofiel van elke spesifieke vrug, die omstandighede en logistieke werklikhede in die land en die vermoë van die vrug om kouebehandeling te deurstaan.
Tweedens, die nuwe reël is nie regverdigbaar nie aangesien daar nie ’n valskodlingsmot-krisis in Suid-Afrika is nie. Volgens Chadwick was daar die afgelope drie jaar slegs onderskeidelik 14, 19 en 15 onderskeppings van valskodlingsmot. Boonop het die SASKV nie oortuigende bewyse ontvang dat die larwes wat verlede jaar onderskep is, lewend was nie. “Indien daar ’n krisis is, is dit ’n krisis vir ander kommoditeite van ander gebiede,” sê Chadwick.
Volgens Chadwick sal die nuwe maatreël ’n ernstige impak hê op Suid-Afrika se uitvoer na die EU, waarvan die waarde tans op €1 miljard jaar per jaar bereken word. Dit bring ook minstens 120 000 werksgeleenthede in gedrang. “Daar is veel minder beperkende en ewe doeltreffende maatreëls beskikbaar.”
Wat haalbaarheid betref, sê Chadwick dat sowat 86% van Suid-Afrikaanse lemoene wat in verlede jaar na die EU uitgevoer is, nie voorverkoeling moes ondergaan nie aangesien plae minder by hulle voorkom en hulle teen ’n laer temperatuur verskeep word.