
Teen die tyd dat die grasietydperk vir die toepassing van die nuwe regulasies verstryk het, het die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV) beraam dat 1 350 vraghouers sitrusvrugte, nie net lemoene waarvoor die nuwe regulasies geld nie, reeds ter see onderweg na die Europese Unie (EU) was. Uiteindelik is meer as 2 000 vraghouers ter waarde van meer as R500 miljoen met hul aankoms by die hawens teruggehou.
Mnr. Deon Joubert, die SASKV se spesiale gesant oor marktoegang en EU-sake, sê die vereniging het daagliks kontak met die departement gemaak ten einde te verseker dat dié vraghouers vrygestel word. “Die departement het ingestem om nuwe fitosanitêre sertifikate uit te reik wat hopelik tot gevolg sal hê dat die meeste van hierdie vraghouers in die volgende paar dae vrygestel word.”
Tot dusver het meer as 300 hul nuwe sertifikate ontvang. Joubert sê dit sal hopelik verligting vir klein produsente bied, maar los nie die massiewe, voortslepende bedreiging van die nuwe regulasies vir die sitrusbedryf op nie.
“Tot dusver het die huidige dooiepunt plaaslike sitrusprodusente meer as R200 miljoen gekos. Die SKV kan bevestig dat produsente waarskynlik die helfte van hul verwagte inkomste uit hul vrugte sal ontvang aangesien die vraghouers al weke staan en dus hul programme misgeloop het weens hul laat aankoms.”
Onredelik
Luidens ’n verklaring deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling is op ’n vergadering, asook skriftelik aan die Europese kommissie aangedui dat 14 Julie, die toepassingsdatum vir nuwe regulasies wat slegs 23 dae vantevore afgekondig is, onredelik is. Die departement het egter nie sy inspeksie- en sertifiseringstelsel aangepas nie omdat dit volgens hom “onrealisties” sou wees.
Die departement het navrae van uitvoerders wie se vragte ná die toepassingsdatum by hawens in die EU teruggehou word, verdeel as gevalle waar dokumentasie vir pomelo’s en sagtesitrus benodig word, en waar dokumentasie met betrekking tot lemoene se kouebehandeling benodig word. Daar is op 22 Julie met die vervanging van fitosanitêre sertifikate begin. Lemoene was egter steeds ’n kwessie.
Die departement het op 25 Julie ontmoet met die bedryf wat moontlike gelykwaardige maatreëls vir die behandeling van valskodlingsmot voorgestel het. Die departement het hom daartoe verbind om met die EU te onderhandel en die eerste amptelik brief is op 27 Julie na die Nederlandse nasionale plantbeskermingsorganisasie gestuur.
Danksy ’n ooreenkoms wat op 28 Julie bereik is, is op 1 Augustus begin met die uitreik van nuwe fitosanitêre sertifikate vir lemoene. Italië het tot dieselfde ooreenkoms ingestem. Die departement het op 3 Augustus ingestem om ook ooreenkomste met ander lande waar Suid-Afrikaanse lemoene teruggehou word – Denemark, Frankryk, Duitsland, Portugal, Spanje en Swede – te sluit.
Die departement het op 5 Augustus met die Europese kommisie vergader oor die terughou van die vraghouers aangesien die EU daartoe ingestem het dat die lemoene se kouebehandeling in die EU voltooi kan word. “Die tussentydse maatreëls bepaal dat die vragte by kouebehandelingsaanlegte in die EU voltooi kan word.”