
Volgens Transnet-haweterminale (TPT) is meer as 77 376 vraghouers (40 voet) gedurende die eerste helfte van die seisoen by sy vraghouerterminale in Durban, Ngqura en Gqeberha hanteer.
Uitvoervolumes het veral toegeneem by laasgenoemde en was 36% hoër as verlede jaar. By Durban se Kaai 1- en Kaai 2-terminaal was uitvoervolumes onderskeidelik 13,1% en 6,1% hoër. Volumes het met 2,3% by Ngqura toegeneem.
Uitvoervolumes het ook toegeneem by Kaapstad-hawe se vraghouerterminaal, wat volgens TPT hierdie seisoen die nodige steun gebied het. Vanjaar was daar ’n 6%-toename in verkoelde vragvolumes, wat sitrusuitvoer insluit, by dié hawe.
Me. Michelle van Buren Schele, TPT se handels-en-beplanningsbestuurder, sê die gereedheidsplan vir sitrus het gekonsentreer op onder meer personeelvoorsiening, stapelvermoë en die beskikbaarheid van meer kragpunte vir verkoelde vraghouers.
Volgens haar sal die voorgestelde spoorvervoer van verkoelde vraghouers vragmotorverkeer aansienlik verlig, maar dat dit nog deur logistieke diensverskaffers oorweeg word.
Die Europese Unie se nuwe regulasies vir die sitrusuitvoer vanaf Suider-Afrika bly egter ’n groot struikelblok. As gevolg daarvan, asook die styging in verskepingskoste, insetkoste en die laat produksieseisoen vir lemoene en pomelo’s, het die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging sy vooruitskattings vir vanjaar se uitvoervolume van 170,5 miljoen kartonhouers tot 165,9 miljoen kartonhouers verminder.
TPT het ook sy huidige gratis opbergingsprosedure vir invoer by Durban se vraghouerterminale aangepas ten einde die beweging van stapels in sy terminale te verbeter. Vrageienaars kan steeds hul invoer vir 78 uur gratis opberg, maar dié tydperk geld vanaf die tydstip waarop die vraghouers afgelaai en geplaas word in die stapelarea waar dit afgehaal moet word. Voorheen het die gratis 78 uur eers begin wanneer al die vraghouers van die skip afgelaai is.