
Die SASKV het onlangs die Japan-Suid-Afrika-sakeforum in Pretoria toegespreek op dié forum se eerste vergadering.
Suid-Afrikaanse sitrusuitvoer na Japan word beheer deur ’n protokol wat in 1992 onderteken is. Dié protokol is besonders aangesien dit volgens Chadwick een van die enigste trilaterale protokole is en Eswatini (voorheen Swaziland), Suid-Afrika en Japan insluit.
Die protokol is onderteken toe kouebehandeling vir sitrus nog ’n nuwe wetenskap was en het voorsiening gemaak vir die uitvoer van lemoene (valencia, Washington-nawel, Tomango and Protea), suurlemoene en pomelo’s. Volgens Chadwick is pomelo’s meer as 90% van die sitrus wat na Japan uitgevoer word.
Uitvoervolumes na Japan het tot in 2005 toegeneem, maar neem sedertdien deurlopend af. Chadwick stel dus in die SASKV se nuutste nuusbrief twee veranderinge aan die protokol voor om sitrusuitvoer na Japan ’n hupstoot te gee.
Eerstens moet Japan toegee dat Suid-Afrikaanse sitrus, soos verskeie ander lande s’n, nie aan kouebehandeling onderwerp moet word nie aangesien daar nuwe, minder skadelike behandelinge teen plae is.
“In 2002 is Suid-Afrika se versoek om gelyke behandeling afgekeur,” sê Chadwick. “Suid-Afrika het toe nuwe proewe onderneem om te bewys wat almal reeds geweet het – dat die nuwe disinfestasie-behandeling doeltreffend was.
“Die inligting is eers in 2009 en toe weer in 2014 met die Japanese owerhede gedeel. Die saak is steeds nie opgelos nie. Dit is belangrik dat dit opgelos word aangesien dit die mandjie vir sitrusuitvoer sal vergroot om suurlemoene en ander sitrus wat gevoelig vir koue is, in te sluit.”
Nog ’n kwessie is die feit dat Japan vrugte volgens kultivar verklaar – ten spyte daarvan dat Amerika in die verlede reeds ’n saak hieroor teen Japan by die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) gebring en gewen het. Die WHO beskou dié praktyk as handelsversperring.
“Wat mandaryne betref, het Japan in 2007 die toevoeging van clementines tot die lys toegelate sitrusprodukte gevoeg. Die versoek was egter dat alle mandaryne toelaatbaar moet wees. Sedertdien het Suid-Afrika genoeg tegniese bewyse verskaf wat daartoe behoort te lei dat alle mandaryne tot Japan toegelaat sal word,” sê Chadwick.
“Terwyl alle lande die reg het om hul plaaslike bedrywe en hul plaaslike plantegroei teen nuwe plae te beskerm, is daar voldoende internasionale bewyse dat die Japanese standpunt op hierdie twee kwessies nie tegnies regverdigbaar is nie.”
Daar is reeds vanjaar 47 miljoen 15 kg-kartonhouers sitrus in Suid-Afrika verpak. Die SASKV ondersoek tans Agrihub se data oor hoeveel hiervan tot dusver verskeep is en het dus nie melding daarvan gemaak nie.