
Suid-Afrikaanse sitrus word al meer as 100 jaar na Europa uitgevoer. Gedurende die Europese somer is Suid-Afrika dié vasteland se belangrikste bron van sitrus. Die afgelope jaar het Suid-Afrika sitrus van €1 miljard na Europa uitgevoer.
’n Voorgestelde wysiging aan die protokol vir sitrus uit Israel en lande in Afrika, onder meer Suid-Afrika, wat vandag deur die Europese Unie (EU) se staande komitee op plante, diere en voer bekragtig word, het egter die potensiaal om handel tussen Suid-Afrika en die EU te knou, sê mnr. Deon Joubert van die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV).
Volgens die voorgestelde wysiging moet alle lemoene uit Afrika en Israel kouebehandeling vir ’n minimum van 16 dae teen temperature van tussen 0 °C en -1 °C ondergaan ten einde aan die vereistes rakende valskodlingmot (Thaumatotibia leucotreta) te voldoen.
Joubert sê dié wysiging sal die invoer verhinder van alle organiese lemoene, lemoene wat nie chemies behandel is nie, en verskeie belangrike kultivars wat nie bestand is teen dié temperature nie.
“Dit sal groot invoergapings in die beskikbaarheid van topgehalte lemoene aan EU-verbruikers gedurende die Europese somer veroorsaak, wat in die verlede op dié aanbod staatgemaak het. Die produkte wat die grootste vraag van EU-verbruikers geniet, organiese lemoene en lemoene wat nie chemies behandel is nie, sal nie beskikbaar wees nie. Die vraag in die EU na hierdie produkte is juis sterk aangesien verbruikers die voordele van vitamien C vir hul immuunstelsel en algemene gesondheid insien.”
Volgens hom kan die nuwe vereiste nie op grond van plantgesondheid geregverdig word nie aangesien kouebehandeling reeds deel vorm van die Suid-Afrikaanse risikobestuurselsel vir valskodlingmot. Die behandeling word aangepas volgens risikobepalings en weeklikse monitering voordat geoes word.
“Dié stelsel se aanpasbaarheid is sy grootste sterkpunt en is ook belangrik aangesien dit voorsiening maak vir intervensies wat omgewingsvriendelik en nie-chemies, en dus volhoubaar en biologies, aanvaarbaar is. Om ’n gestandaardiseerde vereiste vir kouebehandeling in te stel, vernietig die voordele wat deur minimale chemiese intervensie voor oestyd behaal word.”
Hy sê die risiko vir valskodlingsmot in sitrus vanaf Suid-Afrika na die EU het nog nie toegeneem nie sedert valskodlingsmot drie jaar gelede as ’n EU-kwarantynplaag verklaar is. Gedurende die afgelope drie jaar was daar slegs onderskeidelik 15, 19 en 15 onderskeppings.
“Dit is nie ’n opwaartse neiging nie. Daar is ook groot vraagtekens oor of die aantal onderskeppings lewend was, soos deur ’n onderskepping vereis word. Die fotografiese bewyse van swart (dooie) larwes saam met bewyse van die korrekte toepassing van die ooreengekome wetenskaplik vereiste kouebehandeling in 2021 met sy bewese doeltreffendheid, het daartoe gelei dat kenners tot die gevolgtrekking gekom het dat die larwes wat gevind is, inderdaad dood was tydens onderskepping.”
Suid-Afrika het tot die gevolgtrekking gekom dat 6 van die 15 onderskeppings verlede jaar met dooie larwes te doen gehad het.
Risiko laag
Volgens hom is die risiko vir valskodlingsmot by lemoene nie besonder hoog nie. Vergeleke met die onderskeidelik 15, 12 en 8 onderskeppings wat die afgelope drie jaar by lemoene voorgekom het, het van 51 tot 129 onderskeppings van gesnyde blomme en ander tuinbouprodukte gedurende dieselfde periode voorgekom.
Joubert sê ander protokolle wat reeds deel vorm van die EU se risikobestuurselsel vir valskodlingsmot, is net so doeltreffend soos die protokol wat die EU nou wil instel.
Joubert sê die EU se voorgestelde wysiging strook dus nie met die wêreldhandelorganisasie se ooreenkoms op sanitêre en fotosanitêre standaarde se beginsel dat die maatreël wat handel die minste beperk, toegepas moet word nie. “Daar is geen goeie rede om in werklikheid die invoer van sommige lemoenkultivars, organiese lemoene of lemoene wat nie chemies behandel is nie, uit Suid-Afrika te verbied, terwyl die voorgestelde wysiging nie wetenskaplik geregverdig kan word nie en ander, ewe doeltreffende maatreëls beskikbaar is en reeds toegepas word.
“Suid-Afrika verhandel reeds meer as 100 jaar sitrus suksesvol met die EU. Suid-Afrikaanse kwekers is uiters bewus van die belang van produksiebeskerming teen plae en erken die reg van Europese kwekers om sulke beskerming te geniet.
“Suid-Afrikaanse kwekers bestee jaarliks sowat R3,4 miljard om te verseker dat hulle aan die hoogste voldoeningsvlakke vir plantgesondheidregulasies oor valskodlingsmot en swartvlek voldoen. Hierdie grootskaalse belegging is te danke aan die werking van seker die mees gesofistikeerde risikobestuurstelsel van plantgesondheid in die wêreld.
“Dit maak dus nie sin dat dit ondermyn moet word met ’n onnodige en disproporsionele gestandaardiseerde verpligte vereiste vir kouebehandeling wat Suid-Afrika se vernuwende, omgewingsvriendselike en volhoubare risikobestuurstelsel vir valskodlingsmot ondermyn nie.”
Joubert sê die SKV versoek dat die Europese kommissie met Suid-Afrika konsulteer oor doeltreffende en haalbare alternatiewe.