
Leiers van Agri SA en die SKA-radioteleskoopprojek in die Noord-Kaap het ’n memorandum van verstandhouding onderteken om te verseker dat plaaslike gemeenskappe van die Karoo baat vind by die projek.
Volgens ’n mediavrystelling van SKA Suid-Afrika (SKA SA) sluit hulle vennootskappe met burgerlike gemeenskapsorganisasies om te verseker dat die verwagte impak van die projek gunstig bly. Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, het gesê hulle kan nie die projek stop nie, maar die memorandum lê riglyne neer vir wat gebeur nadat SKA SA die 118 000 hektaar grond van boere by Carnarvon, Vanwyksvlei en Williston gekoop het om die kern van die SKA-radioteleskoop te bou.
“Ons wil probeer om die ekonomiese impak op die gebied te beperk. Dit volg op ons oorspronklike ooreenkoms met dr. Justin Jonas van die SKA waarvolgens ons wou verhoed dat die ekonomie van die gebied nadeel trek. In die eerste plek wil ons hê boere moet regverdig behandel word as hulle hul grond verkoop. Waar SKA SA nie in alle grond van ’n boer belangstel nie, moet hulle dit koop en weer op die ope mark verkoop.”
Landbou moet voortgaan
Möller sê Agri SA verwag ook dat landbou-aktiwiteite buite die kern van die SKA-radioteleskoop moet kan voortgaan en die dorpe nie nadeel trek nie. “Ons probeer ’n positiewe verstandhouding vestig waarbinne hulle hul korporatiewe pligte kan uitvoer.”
Met die memorandum onderneem Agri SA en SKA SA volgens die mediavrystelling om “voortdurend” maniere te soek om, waar moontlik, die landbougrond wat in die gedrang kom, vir boerdery te benut, solank dit nie die funksionering van die radioteleskoop in die gevaar stel nie. Na verwagting sal die boere se kundigheid SKA SA help om die bekamping van roofdiere en indringerplante te bestuur.
SKA erken dat grondeienaars en plaaswerkers se vermoë om moderne kommunikasietoerusting te gebruik, beperk sal wees. Hulle het egter onderneem om daarin te belê om alternatiewe tegnologie, wat die impak van die radioteleskoop sal beperk, te ontwikkel. “Volgens die ooreenkoms sal gereelde behoeftebepalings gedoen word om alternatiewe oplossings vir die kommunikasiebehoeftes van die geaffekteerde gemeenskappe te vind.”
Grootste moontlike voordeel
Dr. Rob Adam, besturende direkteur van SKA SA, gesê sy visie is dat die organisasie aanhou om hul verhouding met die mense wat in en naby aan die SKA-perseel woon, uit te bou. “Dit is die verantwoordelikheid van SKA SA en plaaslike boere om saam te werk om ’n volhoubare toekoms vir die deel van die Karoo te bou.”
Hy sê met die ooreenkoms verbind SKA SA hom daartoe om in vennootskap met georganiseerde landbou seker te maak dat die Karoo die grootste moontlike voordeel kry uit die huisvesting van die radioteleskoop. Volgens Adam gaan hulle ook eersdaags ’n ooreenkoms aangaan met die Raad van die San-mense, wat die belange verteenwoordig van die nageslag van die vroegste inwoners van die Karoo.