
Die beplanning en installering van die SKA-projek en die aansoek om hidrobreking vir skaliegas in die Karoo kan met mekaar in konflik kom.
Luidens ’n berig op News24.com is 70% van dié projek verlede week deur die SKA-organisasie aan Suid-Afrika toegeken.
Dié projek sal die oprigting van duisende hoogs sensitiewe reseptore oor honderde kilometers in die droë Noord-Kaap tot gevolg hê.
Dié gebied sal egter aan die bepalings van ’n sterrekundewet moet voldoen, waarvolgens enige aktiwiteite wat die bestudering van die hemelruim verhinder of nadelig beïnvloed, verbied moet word.Dié aktiwiteite sluit hidrobreking, boorwerk met sand en water, in.
Minister
“Daar is nog geen besluit van die Regering af oor hidrobreking nie. Ons moet die wetenskap daarvan verstaan voor enige lisensies toegeken word, maar ek sal die wet gebruik as dit nodig is,” sê me. Naledi Pandor, Minister van Wetenskap.
Die Wet op Astronomiese Geografiese Voordeel (Wet 21 van 2007) is goedgekeur in ’n poging om die land se voorlegging vir die projek te bevoordeel. Dit gee die Pandor se departement die mag om bome af te saag, vlugroetes te verander en radio-ontvangs te onderbeek as dit sterrekundige ondersoeke in ’n gebied benadeel.
Me. Janine Nel, woordvoerder vir Shell Suid-Afrika – die maatskappy wat aansoek gedoen het om die lisensie om vir skaliegas in Karoo te prospekteer, sê hulle sal voldoen aan die wet se voorwaardes. As die lisensie aan die maatskappy toegestaan word, neem die maatskappy hom voor om prospektering binne die reëls en regulasies uit te voer.
“Groen”-voordeel
Intussen sê mnr. Rob Jeffrey, besturende direkteur van Econometrix, die ontginning van skaliegas kan die land help om sy doelstellings vir die verlaging van koolsuurgasvrystelling te bereik. Luidens ’n berig in Engineering News het die maatskappy vroeër vanjaar ’n verslag, wat die voordele van hidrobreking en skaliegasontginning uitwys, gepubliseer.
Jeffrey het op ’n kongres wat deur die Fossielbrandstofstigting in Johannesburg aangebied is, gesê die gas kan die land se posisie van ’n netto invoerder van alternatiewe energie verander.
“Enigiets minder as verdere ondersoeke sal die regte van die mense van Suid-Afrika skend. ’n Geleentheid kan bestaan om die lewensgehalte van die mense in die land te verbeter, mits dit gedoen kan word sonder beduidende skade aan die omgewing.”
Jeffrey sê hoewel die SKA-projek ’n impak op die land se ekonomie sal hê, sal die langtermynvoordele van skaliegasontginning reusagtig wees.
Bronne: News24.com en Engineering News
30 Mei 2012