Suid-Afrika en Australië gaan dalk vandag hoor watter land die SKA-radioteleskoopprojek gaan huisves.
Die SKA-organisasie, ’n Britse maatskappy met wetenskap- en navorsingsinstansies in Suid-Afrika, Australië, China, Italië, Nieu-Seeland, Nederland, Kanada en Brittanje as lede, vergader vandag in Nederland om te besluit watter een van die twee lande die projek sal huisves.
Alle lede, behalwe dié van Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland, sal vandag kan stem. As die lande met stemreg nie vandag eenstemmigheid bereik nie, sal die besluit uitgestel word.
Die aankondiging sou oorspronklik op 4 April gemaak word, maar is uitgestel. ’n Klein wetenskap-werkgroep is toe saamgestel om ’n meer inklusiewe benadering te bespreek. Die groep is veronderstel om vandag terugvoering te gee.
Die moontlikheid dat die bod om die projek te huisves aan albei lande toegeken word, is nie uitgesluit nie. Indien die SKA-organisasie vandag ’n besluit neem, sal die Regering joernaliste tydens ’n mediakonferensie later vandag in Kaapstad en Pretoria toespreek.
Klik hier vir meer inligting oor die SKA-projek.
25 Mei 2012