
*KENNISGEWING: Van die foto's in dié berig kan sensitiewe lesers ontstel.
“Die wasem van die skape se asems was nog sigbaar teen die ruite. Die mis en urine op die vloer was nog warm. Maar iemand moes hulle gewaarsku het, want ons skape was nie meer daar nie. Nou soek ons maar verder.”
Só het ‘n uitgeputte mnr. WJ Church vertel ná hy tot diep in die nag in Lesotha na 51 ooie gesoek het, wat Maandagnag op sy plaas Broedersbank, sowat 5 km van die Lesotho-grens gesteel is.
Lammertjies wat nie kon byhou by die trop nie, is volgens Church met knopkieries geslaan en vir dood agtergelaat in die veld, so ver as wat die diewe met die trop gevlug het. “Ons het 17 lammers verloor en 19 is nou wees gelaat en moet nou hans grootgemaak word.”
Hulle het Woensdagaand sesuur ’n wenk gekry dat sy skape by ’n verlate sinkgebou in Lesotho aangehou word. Church het saam met mnr. Martin de Kock, veiligheidsverteenwoordiger van Vrystaat Landbou van die distrik Zastron, en ’n mede-boer gaan soek. “Ons is toe in drie bakkies reguit na die polisiestasie in Lesotho, waar ’n polisievrou en ’n weermaglid saam met ons na die opstal toe is. Maar die mense moes ons gewaar het, of iemand het hulle gewaarsku. Die skape is toe reeds geskuif. Ons het daar rondgesoek tot ná eenuur die nag,” vertel De Kock.
Dit volg skaars twee weke ná ‘n soortgelyke voorval toe ‘n ander boer in die distrik, mnr. Jannie Goosen, 52 van sy gesteelde skape onder ’n krans teenaan die Lesotho-grens opgespoor het. Ook Goosen het, so ver as wat hy, sy seuns en sy plaaswerkers op die spoor van sy gesteelde diere geloop het, lammertjies van skaars twee tot drie weke oud gekry wat doodgeslaan of agtergelaat is. “Dis seker nou maar omdat die lammers se geblêr soos hulle hul ma’s roep, sou verklap waar die trop is, dat hulle doodgemaak is.”
Boere in hierdie distrik is raadop met die voorvalle van veediefstal wat die afgelope maande aansienlik veregerger het, sê die drie boere met wie Landbouweekblad gepraat het. In Church se geval het hy die afgelope 15 jaar reeds meer as 70 sake van veediefstal aangemeld. Nog nie een saak is opgelos nie. “Dis eers van ons as boere self by die polisie in Lesotho die diefstalle gaan aanmeld, dat ons resultate kry, want die polisie daar sê die diewe gee Lesotho ’n slegte naam en hulle help ons om die diere te soek.”
Politieke wil ontbreek
Goosen het die afgelope ses maande twee keer deurgeloop. “Jy meld dit aan en die polisie kom neem ’n verklaring maar dit help eenvoudig nie. Teen die tyd wat hulle uitkom, is die diere lankal oor die grens.” sê Goosen. Volgens De Kock is die probeem dat die politieke wil ontbreek om die grens deur die weermag te laat patrolleer nie. “Die polisie hier op Zastron het eenvoudig nie die mannekrag nie. Hulle wil help, as hulle net kon, maar die gebied is ruig en uitgestrek, ons het weermaglede nodig wat voetpatrollies kan doen.”
Selfs al word die diere in Lesotho opgespoor, ly boere steeds skade, want die skape wat so aangejaag is, verloor gewig, word beseer of steek siektes in Lesotho aan. “Dan moet ons hulle in kwarantyn hou en groot koste aangaan om hulle weer gesond te kry,” sê Goosen.
De Kock is oortuig die groot toename is diefstal-voorvalle is nie die werk van potslagters nie, maar veediefstal-sindikate. “Dit raak ’n ekonomiese krisis in ons gebied, die diefstal is eenvoudig oorweldigend.” Die boere span die heel nuutste tegnologie in om hul skape te monitor, maar dit is nutteloos as die selfoonsein af is, soos wat deesdae toenemend gebeur. In Church se geval het hy egter nie selfoonsein op sy plaas nie, so hy kan nie elektroniese halsbande om die diere se nekke sit wat hom per selfoon waarsku as hulel aangejaag word nie.
Die tol wat die diefstal-voorvalle eis, word nie net in geld gemeet nie. “Weet jy wat doen dit aan ’n mens om jou weerlose lammetjies te sien wat doodgeslaan is? Die impak reflekteer terug op jou gesinslewe, jou verhouding met jou medemens en jou verhouding met jou werkers. Ek kan jou sê ons is keelvol,” sê De Kock.”