
’n Internasionale span wetenskaplikes het die genetiese kode van skape ontrafel om te onthul hoe die spesie sowat viermiljoen jaar gelede afsonderlik van bokke ontwikkel het.
Die studie, die eerste in sy soort om die genetiese verskille uit te lig wat skape van ander diere onderskei, kan hulp verleen aan die ontwikkeling van DNS-toetse om uitgesoekte teelprogramme te versnel wat boere kan help om kuddes te verbeter. "Want beter begrip van skape se genetiese samestelling kan tot gesonder en produktiewer troppe lei," aldus prof. Alan Archiblad van Edinburgh-universiteit se Roslin-instituut.
“Gegewe die belangrikheid van wolproduksie, het ons gefokus op watter gene daarby betrokke is,” sê die wetenskaplikes wat die gene verantwoordelik vir skape se vag geïdentifiseer het. Elsabé Brits van Die Burger berig ook die wetenskaplikes het agtergekom watter gene beheer die metabolisering van ’n spesifieke lipied (vet) in skaapvel. “Dié lipied speel ’n rol in die vorming van wol en die doeltreffende produksie van lanolien.”
Die span, wat hul bevindinge in die vaktydskrif Science geplubliseer het, het ook die gene geïdentifiseer wat die evolusie van die grootpens by herkouers ondersteun wat plantmateriaal vir spysvertering afbreek en hulle so geskik maak vir 'n dieet van gras en ander plante. Verdere studies sal ook nuwe lig kan werp op siektes wat skape tref.
Bron: Die Burger en Alan Harman.