Hoewel skaapvleispryse die afgelope jaar reeds 20% tot 40% gestyg het, wys die kristalbal dat daar in die nabye toekoms nog geen keer sal wees aan dié groei nie.
Mnr. Jan van Zyl, hoof van landbou-inliging en -bemarking van Eerste Nasionale Bank, het by die Agri-Megaweek op Bredasdorp, gesê die vraag na skaapvleis word aangevuur deur verbruikers se smaakvoorkeure asook hul besteebare inkomste.
“Die skaapgetalle in Suid-Afrika neem af en die meeste diere wat geslag word, kom deesdae voerkrale af. Dit beteken skaapvleis word aan die mielieprys gekoppel, en daarom kan ons verwag dat skaapvleipryse nóg gaan styg.”
Slegte nuus vir uitvoere
Vir uitvoerboere het Van Zyl slegte nuus voorspel. Hy meen die rand gaan minstens nog ’n jaar lank op sowat R7,00 teenoor die dollar verhandel.
“Die rand sal eers teen 2013 tot R7,50 verswak,” het hy gesê.
Hy het egter gesê die landbou is tans vir boere ’n baie goeie plek om te wees. Die Overberg verwag goeie oeste en boere wat die Agri-Megaweek bywoon, is oor die algemeen vol hoop vir die toekoms.
“Die wêreld se vermoë om kos te produseer en die aantal monde wat gevoer moet word, trek in twee verskillende rigtings. Dit sal vorentoe ’n uiters sterk maatskaplike en politieke punt wees.”
15 September 2011