
Die ram Mnumzane van die Van Zyl-boerdery by Amersfoort is vir die Suid-Afrikaanse rekordprys vir ’n blesbok op Wildbedryf Suid-Afrika se jaarlikse veiling by BelaBela verkoop. Die koper was mnr. Piet du Toit van Rustenburg, wat R4,2 miljoen betaal het.
Mnumzane se teler, dr. Donnie van Zyl, sê dié rekord was ook die hoogste prys van enige spesie op op die veiling. Die vorige hoogste prys vir dié kleurvariasie was R850 000.
Die Van Zyls se teelprogram van witsaalrug-blesbokke van die afgelope vyf jaar bestaan tans uit sowat 120 ooie in verskillende kampe met uitgesoekte ramme vir elke groep ooie.
Dié kleurvariasie is vermoedelik al in die laat jare negentig in die land opgemerk en volgens Van Zyl is daar waarskynlik minder as honderd volbloed-bokke van dié variasie in die land beskikbaar.
Van Zyl sê hy het tot sowat vyf jaar gelede nog diere met dié kleurpatrone vir biltong gejag. Hulle gewildheid het sedert verlede jaar aansienlik toegeneem toe die eerste bokke van die kleurvariasie vir teeldoeleindes verkoop is.