Dit sal nog etlike weke duur voor betroubare syfers beskikbaar sal wees van die totale skade ná die ontdekking van fyn glasstukkies in sekere pulp-verpakkingsmateriaal.
“Alles dui daarop dat dit nie honderde miljoene rande sal wees, soos aanvanklik geraam is nie. Dit kan eerder rondom R10 miljoen wees indien die situasie – soos tot nou toe – met realisme en gesonde logika bestuur word.”
Só sê mnr. Anton Rabe, uitvoerende hoof van Hortgro Dienste in die Paarl, na aanleiding van die verpakkingsmateriaal wat deur die Finse maatskappy Huhtamaki SA aan die bedryf voorsien is.
R10 miljoen skade
Aanvanklik is skade van tot R500 miljoen in die plaaslike vrugtebedryf genoem, wat later R380 miljoen geword het, maar nou eerder op sowat R10 miljoen geraam word.
Mnr. Will Rigby, hoofbestuurder van Huhtamaki SA, sê in ’n verklaring die twee onafhanklike oorsese ondersoeke wat gedoen is, toon die risiko wat die glasstukkies in die verpakkingsmateriaal vir menslike gesondheid inhou, onbeduidend nietig is.
Daarom noodsaak die situasie nie ’n herroeping van die produk nie. Volgens die ondersoeke is die glasstukkies klein (1 mm tot 4 mm) en diep in die verpakkingsmateriaal.
Dit verg moeite om dit los te wikkel. Volgens Rigby word die risiko vir mense verder verminder deurdat die meeste vrugte herverpak word voordat dit die verbruiker bereik.
Geen beserings aangemeld
Hoewel die verpakkingsmateriaal moontlik sedert September verlede jaar besoedel is en groot hoeveelhede daarvan gebruik is, is geen nadelige gevolge of beserings nog aangemeld nie. Rabe sê Hortgro Dienste het steeds gesprekke met Huhtamaki SA oor die koördinering van aksies asook eise wat uit die situasie kan voortspruit.
“Ons is hoopvol dat ooreengekom sal word op ’n gesamentlike aksieprogram en die berekening van moontlike eise deur ’n span kundiges.” Intussen word vrugtepakhuise en -uitvoerders gevra om die memorandum wat deur ’n regsmaatskappy opgestel is, vir moontlike eise te bestudeer.
Hulle behoort seker te maak dat dokumentêre bewyse gereed is om eise te ondersteun, sê Rabe. Pakhuise en uitvoerders moet ook hul eie versekeraars inlig.
4 April 2012