
Hortgro het op 11 September ’n projek geloods om die moontlike omvang van skade wat die droogte in die Wes-Kaap tot gevolg kan hê, te kwantifiseer, sê mnr. Jacques du Preez, die bestuurder van handel en markte by Hortgro.
“Ek dink baie van ons is nog in die donker oor die omvang van hierdie droogte. Hortgro het’n projek geloods om die omvang van die droogte te kwantifiseer. Dit is wel nog te vroeg om werklik agter te kom waar ons staan en ons wil nie ons markte onnodig wegjaag na Chile toe nie, maar ons moet bewus wees van die realiteite om proaktief te optree.
“Ek weet van produsente wat reeds begin het om bloeisels te verwyder om die bome te red. Of dit die beste besluit is, kan ons nie nou al sê nie, want dit kan vir twee weke skielik en betyds reën en die situasie aansienlik verbeter,” vertel du Preez.
Meeste van die vroeë steenvrugte is reeds aan die blom, maar dit is steeds te vroeg vir die kernvrugte. Alle aanduiding uit die bedryf, volgens Du Preez, is dat daar heel moontlik ’n goeie oes aan die bome sit. Volgens Du Preez behoort hulle resultate van hul droogte-opname teen 18 September bekend te maak.