
Agri SA sê hy het kennis geneem van die Kabinet se besluit dat die moratorium op skaliegas-eksplorasie opgehef kan word. Dit volg op aanbeveling van die tegniese taakgroep wat verlede jaar deur die Minister van Minerale Hulpbronne aangestel is om haar van advies in die verband te voorsien.
Agri SA is van mening dat die verslag van die tegniese komitee, waarop die Kabinet sy besluit geneem het, vooraf vir insae en kommentaar beskikbaar moes wees alvorens ’n besluit daaromtrent geneem is.
Vir groter deursigtigheid en integriteit van die proses is Agri SA van mening dat dié verslag vooraf vir insae en kommentaar beskikbaar moes wees alvorens die Kabinet ‘n besluit daaromtrent geneem het.
Geen insae in bevindinge
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê dat die organisasie nie insae in die werking of bevindinge van die taakgroep gehad het nie. Die organisasie het verlede jaar ’n versoek aan die Minister gerig om ’n moratorium op skaliegas-ontwikkeling te plaas. Redes wat aangevoer is hou verband met kommer oor die moontlikheid van grondwaterbesoedeling as moontlike uitvloeisel van dié ontginningsproses. Agri SA het ook versoek dat die resultate van internasionale navorsing hieromtrent afgewag en in ag geneem moet word. Volgens Agri SA se inligting is hierdie werk nog nie afgehandel nie.
Volgens Möller verstaan Agri SA die land se behoeftes vir die ontwikkeling van alternatiewe energie-hulpbronne, maar met die voorbehoud dat die moontlike implikasies wat skaliegas-ontwikkeling vir die landbou en die omgewing inhou, deeglik verreken moet word.
Agri SA sal aan die Minister se voorgestelde openbare konsultasieprosesse deelneem en hom beywer vir die toepassing van beste internasionale praktyk, ook ten opsigte van wetgewing vir die omgewing. Verder sal Agri SA hom laat lei deur sy lede ten opsigte van moontlike ooreenkomste met Shell en ander ontwikkelaars betrokke by die skaliegasproses, het Möller bygevoeg.