Agri SA verwelkom die kabinet se aanvaarding van die Departement van Minerale Hulpbonne se besluit om ’n moratorium te plaas op lisensies vir skaliegas-ontwikkeling met behulp van hidroliese breking oftewel “fracking” in die Karoo.
Die besluit is Donderdag (21 April) in die parlement aangekondig. Die organisasie sê dié besluit volg op ’n skrywe wat Agri SA op 24 Maart aan me. Susan Shabangu, die Minister van Mynwese, oor skaliegas-ontginning gerig het.
Die organisasie het, soos ander organisasies en politieke partye, vir ’n moratorium gevra in afwagting op bevindinge van ’n ondersoek wat in Amerika gedoen word.
Karoo kan dit nie bekostig
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê die Karoo kan dit nie bekostig om aan onsekere prosesse vir die myn van skaliegas blootgestel te word nie. Dié mynmetode kan die ekonomiese oorlewing en lewensgehalte van landelike gemeenskappe in die Karoo in gedrang bring:
“Die beskikbaarheid en gehalte van ondergrondse waterhulpbronne is die lewensaar van die gebied”. Möller sê hy is ook vol vertroue dat die Regering dieselfde omsigtigheid sal gebruik in ander gebiede in Suid-Afrika waar skaliegas-ontwikkelings met dié metode beplan word.
Agri SA wil deel wees van die belangegroep wat navorsing moet doen oor die implikasies van “fracking”. “Agri SA is verheug daaroor dat die Kabinet hom onomwonde verbind het tot ’n skoon omgewing waarin alle ekologiese aspekte gerespekteer sal word,” sê Möller.
26 April 2011