
Die bohaai oor skaliegas in die Karoo is bloot ’n rookskerm vir die ontginning van metaangas uit steenkool, wat reeds in die Limpopo-provinsie sonder die nodige impakstudies gedoen word.
Dié bewering is deur dr. Stefan Cramer, ’n Duitse hidroloog wat nou in Graaff-Reinet woon, tydens die tweede Karoo Parlement op Cradock gemaak.
Cramer sê die ontginning van metaangas uit steenkoollae is ’n soortgelyk proses as hidrobreking vir skaliegas. “Hulle doen dit reeds die afgelope 10 jaar in Limpopo. Die betrokke maatskappy het ’n konsessie gekry om dit op beperkte skaal te ontgin. Al rede waarom dit nog nie kommersieel gedoen word nie, is omdat die toepaslike wetgewing nog nie in plek is nie en hulle ook nie die water- en mineraleregte verkry het nie.”
Cramer meen indien maatskappye toestemming gaan kry om toetsgate vir skaliegas in die Karoo-kom te boor, dit baie moeilik sal wees om hulle later regte te weier om tot kommersiële produksie oor te gaan.
Hy het egter daarop gewys dat die betrokke grondeienaars op wie se eiendom toetsgate geboor word eers vooraf hulle toestemming sal moet gee. “Sou die eienaars weier, kan die maatskappy hulle tot die hof wend om die grond te onteien. Daarom lê daar nog ’n lang pad vir die maatskappye voor.”
Cramer sê hy het waardering dat Shell meer openlik oor hulle planne as die ander twee maatskappye is wat ook vir lisensies aansoek gedoen het. “Uit hul ervaring in ander lande besef Shell dat hy nié nét die wetlike regte moet hê om hidrobreking te doen nie, maar ook ’n ‘sosiale lisensie’ om diegene wat geraak gaan word se goedkeuring te kry. Dit is waarom Shell moeite daarmee maak.”
Hy meen die ander twee maatskappy stel waarskynlik nie in die kommersiële produksie van skaliegas belang nie en gaan bloot as prospekteerders optree om later hulle regte aan die hoogste bieër te verkoop – dit kan Shell wees,” het Cramer aan Landbouweekblad gesê.