Shell se planne om vir skaliegas in die Karoo te prospekteer om dit uiteindelik deur hidroliese frakturering te ontgin, kry nou sterk teenstand van wetenskaplikes by die SKA-projek (Square Kilometre Array).
Dr. Adrian Tiplady, projekbestuurder van die SKA-radioteleskoopprojek buite Carnarvon in die Noord-Kaap, sê die SKA-projek en eksplorasie- of mynaktiwiteite is onverenigbaar.
“Ons gaan die Wet op Astronomie en Geografiese Voordele (Wet 21 van 2007) gebruik om seker te maak dat aktwiteite soos eksplorasie vir skaliegas nie die SKA-projek op enige manier in gevaar stel nie.
“Elektromagnetiese steuring deur groot myntoerusting sal steuring veroorsaak en sal ver van die skottels van die SKA-radioteleskoop moet wees.”
Tiplady sê hulle is ook bekommerd dat seismiese steuring die werking van radioteleskope kan benadeel. “Die Wet op Astronomie en Geografiese Voordele dek alle bronne van steuring en beskou myn- en eksplorasie-aktiwiteite as bronne van steuring.”
Op ’n vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor wetenskap en tegnologie in Maart het mnr. Val Munsami, adjunk-direkteurgeneraal van dié departement, gesê die internasionale vennote in die SKA-projek het ernstige vrae oor die uitwerking wat die eksplorasie op die radioteleskoopprojek kan hê.
“Shell se planne is besig om by Suid-Afrika se internasionale strategie om steun vir die projek te werf ‘in te kruip’.”
Op dieselfde vergadering het die voorsitter van die komitee, mnr. Nqaba Ngcobo, opgemerk dat die Minister van Wetenskap en Tegnologie kragtens die Wet op Astronomie en Geografiese Voordele alleen die reg het om die gebied waarin die SKA in werking is, te reguleer.
“Die wet maak dit vir Shell onmoontlik om met sy planne voort te gaan.”
22 Maart 2011