Inligting oor die taakspan wat hidroliese breking in Suid-Afrika moet ondersoek, moet bekend gemaak word.
Dít is een van die bevindings van die Noord-Gautengse Hooggeregshof nadat die Treasure the Karoo-aksiegroep (TKAG) ’n hofaansoek in dié verband ingedien het.
Mnr. Jonathan Deal, voorsitter, sê me. Susan Shabangu, die Minister van Minerale, moet volgens die hofbevel teen 31 Januarie die name en besonderhede van die lede van die taakspan bekend maak. Die hof het ook ’n kostebevel teen die minister gegee.
As sy nie dié inligting bekend maak nie, moet sy verklarings indien oor hoekom sy die inligting weerhou. Indien sy besluit om die inligting te weerhou, kan die saak in ’n hof eindig waar ’n regter die finale besluit sal neem.
Aansoek
Die TKAG het verlede jaar ’n aansoek ingedien in ’n poging om die inligting, wat hy sedert April 2010 van die minister vra, te bekom. Die taakspan is aangestel nadat ’n moratorium op dié metode vir die ontginning van skaliegas afgekondig is.
Deal sê hoewel die TKAG dié sukses behaal het, sal die groep nie ophou met sy pogings om dié mynbedrywighede in die Karoo te stuit nie. “Hierdie stap beteken glad nie die einde van ons stryd om die Regering en oliemaatskappye te dwing om verantwoordelik op te tree nie.”
Volgens Deal is die oliereus Shell tans stil oor sy planne vir hidroliese breking in die Karoo. Hy sê die TKAG is wel bekommerd oor die feit dat die maatskappy gronde kan hê om die staat oor die moratorium te daag.
“Baie tyd het al verloop sedert die moratorium aangekondig is, met nog geen verdere inligting wat bekend gemaak is nie. Én die moratorium is nog nie in die Staatskoerant gepubliseer nie,” sê Deal.
10 Januarie 2012