Die jongste koringoes-skatting is met sowat 2% opwaarts aangepas en dit is ’n “baie optimistiese skatting”, sê Graan SA.
Volgens die Nasionale Oesskattingskomitee se jongste skatting is die verwagte koringoes 1,903 miljoen ton, wat 2,19% hoër is as die vorige skatting van 1,862 miljoen ton.
Die verwagte opbrengs staan tans op 3,15 ton per hektaar, terwyl die verwagte produksie in die Wes-Kaap op 662 500 ton en in die Vrystaat op 585 000 ton geskat word. Die Noord-Kaap se verwagte produksie word op 273 000 ton geskat.
Die oppervlakskatting vir die koringoes is met 2 000 ha afwaarts aangepas tot 604 700 ha.
Vogstremming
Mnr. Andries Theron, voorsitter van Graan SA se wintergraankomitee, sê ten opsigte van dié skatting is hulle bekommerd oor die vogstremming wat sekere dele van die land tans ervaar. “Veral in die Wes- en Suid-Kaap is ons effens bekommerd oor reën wat nou nodig is.”
“Die skatting strook met wat ons verwag het, maar om dit te behaal, is reën in sekere dele nou gou nodig,” vertel Theron.
Die mielie-oesskatting is met 0,66% tot 10,608 miljoen ton aangepas. Dít is 71 000 ha minder as die vorige skatting van 10,679 miljoen ton.
Die produksieskatting vir wit mielies is 6,182 miljoen, met ’n opbrengs van 4,36 ton per hektaar. Die vorige produksieskatting het op 6,2 miljoen ton te staan gekom.
Die geelmielie-oesskatting is 4,426 miljoen ton, wat 53 000 ton minder is as die vorige skatting van 4, 48 miljoen ton. Die verwagte opbrengs is 4,64 ton per hektaar.
Theron sê die daling in die totale mielie-oesskatting kan in komende maande moontlik groter wees as wat die Oesskattingskomitee tans verwag.
Die produksieskatting vir sonneblomsaad is onveranderd op 861 770 ton gelaat.
28 September 2011