
'n Projek word binnekort deur die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) en die Wes-Kaapse departement van landbou van stapel gestuur om die tekort aan skaapskeerders in Suid-Afrika aan te spreek én waardevolle geleenthede aan jong, aspirant-skeerders te bied.
Tekort aan skeerders
Volgens mnr. Jannie Fourie van die NWKV kom meeste skeerders wat plaaslik werk, uit Lesotho. Die NWKV gaan deur middel van 'n reeks skeerdemo's, opgevolg deur skeeropleiding aangebied deur die departement van landbou, jong skaapskeerders help om die vaardighede te ontwikkel wat hulle in staat sal stel om in Suid-Afrika of selfs oorsee as skeerders of wolklassers te werk.
"Sommige kan só elke seisoen goeie geld in Australië of Nieu-Seeland verdien," sê Fourie. "Dit kan jonges help om vir hul studies te betaal of om kapitaal vir 'n eie besigheid bymekaar te kry."
Fourie sê skaapskeer kweek 'n liefde vir diere en vir jou medemens en dat hulle jong mense wil leer om hul werk met trots en respek vir ander te doen.
Leer só skeer
Verskeie skeerdemo's sal in Maart in die Wes-Kaap aangebied word, waar belangstellendes geleer sal word wat die skeerproses behels en die geleentheid sal kry om self 'n skaap onder toesig te skeer. NWKV-inspekteurs sal uit Bloemfontein na die Wes-Kaap reis om deelnemers touwys te maak.
Diegene wat besluit om hierná die skeeropleiding te ondergaan, sal tydens die skoolvakansie deur die veekundige dr. Jasper Cloete by Elsenburg as skeerders opgelei word. Die opleiding sal gratis wees, hoewel studente hul ander onkostes self sal moet betaal.
Volgens Fourie sal studente ook as skeerders in die kompetisiestruktuur opgeneem word.
"Ons wil graag 'n nuwe skole-afdeling by kompetisies skep sodat skoolkinders teen mekaar kan deelneem. Indien hulle kwalifiseer kan hulle ook aan die nasionale en uiteindelik internasionale kompetisies deelneem."
'n Skeerdemo sal op 8 Maart by Porterville plaasvind. Datums vir verdere demos's sal binnekort vasgemaak word. Belangstellendes kan Fourie kontak by 083 564 1105 of jannie@nwga.co.za.