‘n Bottels-vir-Beaufort waterveldtog is van stapel gestuur in ‘n poging om gemeenskappe en boere wat tans onder erge droogte in die sentrale Karoo deurloop, by te staan, sê Agri Wes-Kaap (AWK).
Luidens ‘n verklaring is dié veldtog in samewerking met die Beaufort-Wes Landbouvereniging en plaaslike rampbestuurkantoor aangepak.
“Indien jy deur Beaufort-Wes ry, of weet van mense wat oor die volgende twee maande deur die dorp gaan ry, sal ‘n skenking van verseëlde, gebottelde water opreg waardeer word. Die bottels kan by enige van die drie vulstasies soos mens in die dorp inkom, afgelewer word,” vra AWK.
Die water sal deur die rampbestuurkantoor afgehaal word waarna dit gestoor en versprei sal word aan diegene wat dit die nodigste het.
Nie enigste probleem
Intussen sê me. Porchia Adams, woordvoerder vir AWK, die waterskaarste is tans nie die grootste probleem wat boere in die distrik ondervind nie.
“Hulle sê hul grootste bekommernis is veediefstal en verliese deur skadeveroorsakende diere. Hulle sê hulle kan die watertekorte nog hanteer, want hulle het geleer om aan te pas oor die laaste paar jaar wat die droogte dinge moeilik begin maak het,” vertel Adams.
Volgens Adams bly die droogte egter ‘n werklikheid, en boere se watertafels daal elke dag en boere het min water om mee deur te kom. “Die droogte is meer intens dié jaar en dit plaas geweldig druk op almal in die gebied. Dis juis omdat die boere weet hoe groot die uitwerking van ‘n droogte is, dat hulle die hand uitsteek om die dorpenaars te help.”
2 Desember 2010