Melkproduksie het in Maart skerp met 3,68% gedaal vergeleke met dieselfde maand verlede jaar, sê die Melkprodusente-organisasie (MPO).
Dr. Koos Coetzee, ’n ekonoom by die MPO, sê dié daling is die eerste sedert September verlede jaar. Coetzee sê die totale produksie van Januarie tot Maart vanjaar is 0,5% laer as in die eerste kwartaal verlede jaar. “Die totale melkproduksie vir vanjaar word tans op 2 626 miljoen liters geskat, marginaal hoër as verlede jaar.”
Weerstoestande
Coetzee sê weerstoestande en verswakkende winsgewendheid is van die grootste redes vir die daling.
‘‘Produksiekoste is in die meeste gevalle op. Dink maar aan die pryse van meel. Mielies was verlede jaar dié tyd sowat R1 000 per ton, en tans is dit naby R1 700 per ton. Die feit dat produsentepryse in baie gevalle nog nie verhoog is nie en dat baie boere minimaal of glad nie vir oorskotmelk vergoed word nie, het ’n groot invloed op winsgewendheid,” vertel Coetzee.
Hy sê die wisselende weerstoestande het ook ’n invloed op koeie se produksie. “Talle boere sê baie koeie produseer weens die weerstoestande, droogtes en swaar reënneerslae nie soos verwag is nie.”
Normale winterproduksie
Coetzee verwag dat die produksiesiklus vir die komende winter normaal sal wees, met stelselmagtige dalings tot en met Augustus. “Wat die somer betref, sal ’n mens maar moet wag en sien. Die kans dat winterproduksie hoër as normaal sal wees, is egter skraal.”
26 April 2011