Wolpryse het skerp op die weeklikse se veiling gedaal en Cape Wools se Merino-aanwyser het met 6,8% teruggesak tot R60,82/kg (skoon).
Hoewel die Australiese mark ook verswak het, was die daling op die plaaslike mark heelwat groter. Die onsekerheid rondom Slenkdalkoors en die probleme om gesondheidsertifikate te kry vir die uitvoer van vetwol na China het waarskynlik ’n rol gespeel.
Hoewel die Direktoraat Dieregesondheid van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye besig is om Suid-Afrika ingevolge die protokolle van die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid vry van Slenkdalkoors te verklaar, is daar steeds ’n moratorium van 12 maande op die uitreik van gesondheidsertifikate vir die uitvoer van vetwol na China.
Die daling in pryse het saamgeval met die laagste verkooppersentasie dié seisoen en net 88% van die 11 500 bale wat aangebied is, is verkoop.
Die pryse van lang fynwol was standvastig. Die prys van 19 mikron het met 1,4% gestyg. ’n Rekordprys van R100/kg (vetwol) is betaal vir een baal MF280 van 15,8 mikron van mnr. Stuart Dewing van die plaas Highlands in die distrik Cathcart. Hy was ook die wenner van die 2009/10 Zegna-fynwolkompetisie.
Die gemiddelde pryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) was soos volg: 19 mikron styg met 1,4% tot R88,53/kg, 20 mikron verswak met 7,7% tot R63,69/kg, 21 mikron daal met 7,2% tot R61,14/kg en 22 mikron was 7,2% goedkoper op R58,02/kg.
Sowat 11 500 bale kom volgende week onder die hamer. Dit is ook die laaste veiling voor die Kersreses.
2 Desember 2010