
Na ’n paar moeilike jare was daardie afgelope paar maande ’n skerp oplewing in die vraag na plaaslik geproduseerde sigorei, sê mnr. Loddie Greyling, landboubestuurder van Sigorei SA.
Faktore wat hiertoe bygedra het, is die verswakking van die rand en duurder verskepingskoste. Dit het maatskappye soos Nestle en National Brands wat die grootste kopers van die produk is, genoop om tot groter mate weer na die plaaslike mark vir hulle behoeftes te kyk. Hy meen die styging in die prys van koffie het ook meegebring dat die verhouding sigorei wat in mengsels gebruik word, verhoog is.
Greyling het aan Landbouweekblad gesê hoewel die gehalte van Indiese sigorei beter raak, dit nie op dieselfde hoë standaard as die plaaslike produk is nie.
Die plaaslike aanvraag beloop sowat 22 000 ton per jaar. Kontrakte vir lewering aan die maatskappye is vir die mediumtermyn vasgemaak, maar produsente kan nog aansoek doen vir lewering vir die komende seisoen. “Die uitdaging is om genoeg produsente te kry om in die aanvraag te voorsien aangesien die insetkoste ook baie toegeneem het. Duur arbeidskoste, die beskikbaarheid van arbeiders en hoë brandstofpryse maak dit ’n groot uitdaging.”
Greyling sê daar is min produsente wat sigorei nog grootskaals aanplant. “Aan die ander kant fokus die sowat 25 boere wat dit nog op 400 hektaar verbou, deesdae meer op die gehalte van die produk wat ’n groot pluspunt is.”
Waar die minimumprys vir lewering in die volgende seisoen normaalweg in Oktobermaand aangekondig was, het Sigorei SA dit reeds vandeesmaand bekend gemaak. Die bruto omset van sigoreiverbouing beloop intussen R60 tot R70 miljoen per jaar, sê Greyling.