Regter Colin Lamont het mnr. Julius Malema skuldig bevind aan haatspraak en hom verbied om weer die lied “Skiet die Boer” te sing.
Malema is deur Afriforum voor die hof gedaag nadat hy herhaaldelik die lied “Dubula Ibhunu” in die openbaar gesing het. Daar is al telkemale bespiegel dat die sing van dié lied dien as ’n aansporing tot geweld, spesifiek teen blanke Afrikaners.
Teiken Afrikaners
Lamont het ook in sy uitspraak gesê dat die teikengroep van die lied Afrikaners insluit, hoewel dié groep nie altyd aan politieke saamtrekke deelneem nie. Hy het ook genoem dat die sing van dié lied nie tot omstredenheid gelei het nie, tot dit deur die media vertaal is.
Lamont het gesê haatspraak word verbied om ontwrigting, sielkundige skade, die uitsluiting van minderheidsgroepe en politieke disintegrasie te voorkom. Hy het Malema ook beveel om van die koste van die hofsaak te betaal.
Hoewel Malema nie in die hof teenwoordig was nie, was mnr. Floyd Shivambu, woordvoerder van die ANC, en ander lede van dié party wel in die hof teenwoordig.
12 September 2011