
Dr. Henk Basson, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Veterinêre Vereniging (SAVV), en lede van die vereniging het met skok en afgryse kennis geneem van die wrede moord op hul kollega. De Wet se lyk is Dinsdag, 9 Desember, in haar huis in die Nottinghill Equestrian-landgoed buite Witrivier gevind.
Ao. Gugu Phiri, woordvoerder van die Polisie in Witrivier, het gesê sy is vermoedelik omstreeks middernag dood nadat sy verskeie kere met ’n voorwerp gesteek is. Sy was alleen in die huis en die Polisie is nog onseker wat die motief vir die aanval was. Dit lyk in hierdie stadium nie asof enigiets gesteel is nie, het Phiri gesê.
Die dagblad Beeld het ’n polisiewoordvoerder aangehaal wat gesê het De Wet is halfnaak in haar slaapkamer gevind en is vermoedelik verkrag. Die SAVV het sy diepe medelye met haar naasbestaandes betuig. “Ons vertrou die SA Polisiediens sal geen steen onaangeroer laat om die booswig(te) aan te keer en suksesvol te vervolg nie.”
Die fakulteit veeartsenykunde by Onderstepoort het ook ’n verklaring oor dié oudstudent se tragiese dood uitgereik. “Dr. de Wet, wat eers gekwalifiseer het as perdevoedingkundige en later as veearts, was ’n briljante student en het in 2002 die Theiler-gedenkmedalje as topstudent van die fakulteit ontvang,” lui die verklaring. “Ons betreur haar heengaan as mens, oudstudent, kollega en as veearts.
“Soos met ander beroepe is die afsterwe van ’n begaafde veearts soos dr. De Wet ’n geweldige terugslag inaggenome die belangrike rol van veeartse in die samelewing. Ons glo en vertrou dat die skuldiges verantwoordelik vir haar grusame dood aangekeer sal word. Die fakulteit het innige simpatie met haar naasbestaandes.”
Volgens Beeld het dr. Albertus Coetzee, ’n veearts wat saam met De Wet gewerk het, gesê sy het ’n ongelooflike bydrae op die gebied van perdevoeding en –aanvullings gelewer. “Nie net was sy absoluut ’n spesialis op haar gebied in Suid-Afrika nie, sy het ook oorsee naam gemaak.”
Volgens De Wet se LinkedIn-profiel het sy van 2006 tot 2009 as bestuurder en dosent by die Zabeel-voermeule in Doebaai in die Verenigde Arabiese Emirate gewerk en van 2010 tot 2012 as perdevoedingskonsultant by Epol. In ’n curriculum vitae wat by ’n artikel van haar op www.kznbreeders.co.za verskyn het, het sy sowel haar BSc-honneursgraad in perdevoeding en –genetika as haar graad in veeartsenykunde met lof geslaag.