’n Skokkende 104 renosters is al vanjaar, tot en met Donderdag (8 Maart 2012), in Suid-Afrika vir hulle horings doodgemaak.
Mnr. Pelham Jones, voorsitter, van die Private Renostereienaarsvereniging (PROA), sê dit kom neer op een renoster elke 15 uur.
Hy sê as soveel diere in die eerste nege weke van die jaar gestroop is, kan die jaar se totaal op meer as 600 te staan kom. “Dit is absoluut walglik! En dié getal is net die renosters waarvan ons weet. Dit sluit nie die diere in wat nie aangemeld word nie of waarvan die karkasse begrawe word nie.”
Slagting voorkom
Intussen berig die Volksblad ’n renosterslagting is moontlik in die Vrystaat voorkom. Drie mans is die afgelope week in die Sandveldreservaat naby Hoopstad in hegtenis geneem. Dít volg ná ’n dragtige witrenosterkoei en ’n verskalf sowat vier maande gelede in die reservaat doodgemaak is.
Die verdagtes, mans van onderskeidelik 25, 26 en 41 jaar oud, van Pretoria en Phalaborwa, is Woensdagaand (7 Maart 2012) in die reservaat vasgetrek. Die groep het ’n pylgeweer en geskeduleerde verdowingsmedisyne sonder ’n permit in hul besit gehad. Die Polisie kon nie met sekerheid sê watter tipe wild die mans in die oog gehad het nie, maar ’n sterk vermoede was dat dit die renosters in die park was.
Die drie mans verskyn Vrydag in die landdroshof op die dorp, en sal moontlik vir borgtog aansoek doen.
Bron: Volksblad
9 Maart 2012