
Die jaarlikse graanverhandelingskompetisie, wat BVG in samewerking met BKB GrainCo, die Johannesburgse Sekuriteitebeurs (JSE), Landbou.com en Suidwes Graan aanbied, is vanjaar vir die derde keer op die spyskaart.
Die sluitingsdatum is uitgestel tot 28 Februarie, om studente en belangstellende partye meer geleentheid te gee om in te skryf.
Die doel van die kompetisie is om deelnemers meer vertroud te maak met die gebruik van afgeleide instrumente (termynkontrakte en opsies), asook fiktiewe vooruitkontrakte om prysrisiko te bestuur.
Bestuur prys van 4 000 ton wit mielies
Vir die kompetisie moet deelnemers die prysbestuur van 4 000 ton wit mielies van ‘n boer in die Coligny-distrik behartig. Die bemarkingsoefening word so realisties as moontlik gehou, met realistiese insetkoste. Deelnemers ontvang elke dag ‘n opsommende staat om hulle op die hoogte te hou van hul finansiële posisie.
Daaglikse en weeklikse verslae
Vir die duur van die kompetisie kry deelnemers toegang tot BVG se daaglikse en weeklikse verslae om hulle op die hoogte te hou van relevante markinligting. Deelnemers kry verder die geleentheid om BVG se sagteware vir risiko-analise op die webportaal te benut. Deelnemers kan daar vinnig hul risikoprofiel sien oor ‘n prysreeks.
Vanjaar se kompetisie is heelwat meer uitdagend as dié van verlede jaar.
Bemarkingstrategieë neem egter ‘n heel nuwe dimensie aan met die huidige prys van net bo R2000. (Die kompetisiereëls aanvaar dat die mielies wel gestroop gaan word).
Oordeelkundige koop en verkoop van opsies
Met ‘n hoë mielieprys is geen bemarkingstrategie eintlik nodig nie, behalwe om die prys vas te maak. Vanjaar kan die oordeelkundige koop en verkoop van opsies, saam met vooruitkontrakte, ‘n wesentlike bydrae lewer om ‘n beter prys te realiseer. Die effek van transaksies wat gedoen word, kan dadelik op BVG se portaal gesien en herevalueer word.
Die kompetisie-ure is – soos wat werklik in die praktyk die geval is – gedurende weeksdae van 09:00 tot 12:00, dit wil sê dieselfde tyd as wat verhandeling normaalweg op die JSE gedoen word.
Die kompetisie duur tot 28 April, met ‘n totale prysgeld van R45 000.
* Volg hierdie skakel nou om in te skryf: http://portal.bvg.net/