
Plaaslike olyfolies sal vanjaar teen mekaar meeding om een van die land se 10 bestes te wees in die Absa Top 10-olyfolie-toekennings. Voorheen het dié eer slegs vyf olies te beurt geval.
“Die gehalte van olyfolies wat plaaslik geproduseer word, verbeter voortdurend. Daar is ook ’n toename in die aantal inskrywings vir die SA Olive-toekennings. Verbruikers se vraag na olyfolie van hoë gehalte, sowel as hul lojaliteit aan plaaslike verskaffers, het ons oortuig om die platform uit te brei en erkenning aan tien olyfolies te gee,” sê mnr. Willie Zastron, provinsiale hoof van besigheidsbankdienste by Absa.
Hy glo dit sal geleenthede vir produsente skep om kommersieel te ontwikkel in ’n bedryf wat vinnig groei. Dit sal ook help met marktoegang en om werksgeleenthede, veral in landelike gemeenskappe, te skep.
Suid-Afrikaanse olyfolies het die afgelope paar jaar op internasionale olyfolie-kompetisies gereeld stof in die oë geskop van lande soos Italië en Spanje. “Dis ’n bewys dat Suid-Afrikaanse olyfolie nie hoef terug te staan vir die bestes in die wêreld nie.”
Spogregte, maar verbruikers ook gelei
Volgens mnr. Nick Wilkinson, SA Olive se voorsitter, gee die SA Olive-toekennings en die Absa Top 10-kompetisie erkenning aan die bedryf, maar dit dien ook as riglyn vir verbruikers oor die Suid-Afrikaanse aanbod van olyfolies.
Me. Sue Langstaff, ’n sensoriese wetenskaplike wat ook die UC Davis-olyfolieproepaneel lei, sal vanjaar as voorsitter van die proepaneel optree. Sy het onder meer die boek Olive Oil Sensory Science geskryf en ’n geurwiel geskep wat smake in olyfolie beskryf.
Die SA Olive-toekennings vind elke jaar in Augustus plaas en gee erkenning aan die beste ekstrasuiwer-olies uit die spesifieke jaar. Die inskrywings word blind geproe en daarna bekroon in kategorieë vir delikate, medium en intense olies. Die presteerders wat die hoogste punte by dié kompetisie ontvang, word in ag geneem vir die Top 10-kompetisie.
Plaaslike olyfolie-produsente kan tot 4 Augustus hul ekstra-suiwerolyfolies (uit die huidige oesjaar) inskryf om in aanmerking te kom vir die Absa Top 10-kompetisie. Besoek www.saolive.co.za vir meer inligting. Die wenners sal op 27 September aangekondig word.