Slaghuise moet seker maak dat hul produkte van ’n betroubare bron af kom, sê dr. Malcolm Debudé, hoofdirekteur van die staat se veeartsenykundige diens in Gauteng.
Hy het op Kempton Park op die jaarlikse oorhandiging van die Cleaver-pryse aan die land se beste slaghuise gesê abattoirs word ook beoordeel. Volgens hom is slaghuise die skakel in die ketting net voor vleis by die verbruiker kom. Die verbruiker vertrou die slaghuis.
Daarom is slaghuise verplig om betroubare abattoirs te gebruik. Hy sê ’n mens kan vleis kry wat “onder die boom geslag” word, maar daar is al mense dood van besmette vleis.
“Vind uit wat die gradering van ’n abattoir is. Moet nie net na die prys kyk nie. Die publiek maak staat op die slaghuis om gehalte te voorsien.” Hy sê as ’n slaghuis-eienaar trots is op sy werk, het gesondheidsinspekteurs geen werk nie.
Slaghuise behoort nooit bekommerd te wees oor die besoek van ’n gesondheidsinspekteur nie omdat die standaard wat vanweë trots gehandhaaf word, baie hoër sal wees as wat deur minimumstandaarde afgedwing word.
“Goeie higiëne en gehaltevleis loop hand aan hand. As daar nie goeie higiëne is nie, het jy nie gehalte nie, want jy skep ’n risiko vir die verbruiker. Higiëne en gehalte begin op die plaas en eindig in die maag van die verbruiker.”
Hy sê deesdae kom nóg ’n aspek by – die welstand van die diere. Dit speel ’n al hoe belangriker rol en daar moet gesorg word dat diere nie onnodig ly nie. “Daar is geen rede dat diere in die produksieproses van vleis behoort te ly nie. As diere wreed behandel word, sal dit die gehalte van die vleis beïnvloed.”
Debudé sê die meeste slaghuise, veral in Gauteng, is op ’n vlak wat vergelykbaar is met enige slaghuis ter wêreld. “Ek weet, want ek het al slaghuise wêreldwyd geinspekteer. Ons slaghuise is net so goed – en in talle gevalle baie beter – as ander ter wêreld. Ons moet dit só hou.”
4 Mei 2012