
Die Wes-Kaapse regering het ’n taakspan aangestel om alternatiewe planne te ondersoek om dié bedryf van ondergang te probeer red nadat die Avian Influenza-virus uitgebreek het.
“Ná 18 maande van uitslagting kon ons nie die virus stuit nie en daarom is die bedryf se uitgangspunt nou dat slagting nie die probleem gaan oplos nie,” het mnr. Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse minister van landbou, Maandag (6 Augustus 2012) gesê.
Hy was die genooide spreker by die bekendmaking van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se vooruitskouing tot 2021 op Stellenbosch.
R60 miljoen reeds bestee
Die departement van landbou het al meer as R60 miljoen aan slagting en vergoeding aan boere bestee. Meer as 50 000 volstruise is sedert April verlede jaar uitgeslag in ’n poging om die verspreiding van die virus te keer. Die bedryf het ook sy uitvoerstatus na die Europese Unie verloor.
“Ons het verlede week ’n taakspan aangestel wat altenatiewe planne moet ondersoek om die bedryf te red. Hulle moet op 16 Augustus aan ons verslag doen,” het Van Rensburg gesê.
“Die volstruisbedryf is in groot moeilikheid en die bedryf fokus nie langer daarop om sy uitvoerstatus terug te kry nie, maar fokus net op die bietjie wat nog oor is. Die boere sê vir my dit help nie hulle probeer uitvoer nie, want oor ’n jaar gaan hulle niks meer oor hê om uit te voer nie.”
Landbouweekblad berig volgende week volledig oor die BFAP se vooruitskouing.