
Die mark vir vars slakke is ’n slapende reus wat ontwaak. Só meen mnr. Stanley Micallef en sy vrou Heather, tans die enigste kommersiële slakboere in Suid-Afrika.
“Daar is tans nie regtig ’n formele, gevestigde mark vir slakke in Suid-Afrika nie. Oor die jare was daar pogings om slakke uit die natuur te oes, maar dit was onsuksesvol. Die ingevoerde, geblikte slakke is duur en smaak glad nie lekker nie. Restaurante het dus opgehou om hierdie delikatessen op hul spyskaarte te hou en die vraag het totaal verdwyn,” verduidelik Micallef.
Die Micallefs het egter oor die afgelope vier jaar die produksieproses van slakke verfyn en produseer nou suksesvol die stadige stukkie slym in ’n dop. “Ons kan klaar nie meer al die individue wat by ons plaas aankom, voorsien nie. Dit is ’n baie gewilde dis as dit vars is. Indien ons die voorsiening goed kan koördineer, is daar ’n enorme mark wat lê en wag,” sê Stanley.
Ingevoerde, geblikte slakke kos byna R40 per blikkie
Hy sê tans word 115 gram ingevoerde, geblikte slakke teen byna R40 per blik verkoop en ’n enkele slak kan teen meer as R10 in ’n goeie restaurant verkoop word. “Jy kan 200 slakke per vierkante meter in die opelug produseer, en 420 in beheerde atmosfeer. As die produksie eers aan die gang is, kan ons selfs ’n uitvoermark stig.”
Mnr. David Walker, van Dorset Snails in die Verenigde Koningryke, wat meer as 12 000 slakke per week aan restaurante en kettingwinkels verkoop, meen die vraag na slakke in die VK het jaarliks oor die afgelope tien jaar met nagenoeg 50% per jaar gegroei.
Die Micallefs meen Europese toeriste uit Europa is ’n verdere groot geleentheid is vir plaaslike restaurante om slakke op die spyskaart te sit. “Slakke gaan nog ’n groot mark word en nou dat ek en my vrou die produksie-kennis oor die afgelope vier jaar ingewin het, kan ons volgehoue voorsiening aan die mark waarborg en dis die enigste manier om groei in die vraag te verseker.”
* Kontakbesonderhede: dragon@dragonglass.cc
Tel: 011 849 6430 of 082 457 2951