Slenkdalkoors het onlangs weer in die Oos-Kaap uitgebreek, en bedreig die wolmark-aanwyser wat tans op sy hoogste vlakke ooit is.
Me. Ona Viljoen, woordvoerder vir Cape Wools, sê hulle is bekommerd oor die situasie aangesien China verlede jaar invoere van Suid-Afrikaanse wol weens die siekte gestop het.
“Die markaanwyser is tans die hoogste wat dit nog ooit was, en mens sal dit graag op daardie goeie vlakke wil hou,” aldus Viljoen. Sy sê hulle meen die styging kan toegeskryf word aan verhoogde aanvraag deur Europa en Indië.
Volgens Cape Wools het verkooppryse die afgelope drie weke elke week gestyg, en sedert die seisoen in Augustus verlede jaar begin het, het die markaanwyser met 35% gestyg.
Viljoen sê hulle is bewus van drie voorvalle van Slenkdalkoors in die provinsie. By Graaff-Reinett is beeste met die siekte gediagnoseer, en op Keimond en Hagga-Hagga is nog gevalle bevestig.
Landbou.com het die afgelope week verskeie navrae aan die Departement van Landbou gerig oor die moontlike uitbreking van die siekte in Bronkhorstspruit, en dan onlangs ook oor die uitbreking in die Oos-Kaap.
Die terugvoer wat Vrydag (28 Januarie) ontvang is dui aan dat die betrokke beamptes nie op kantoor is nie en antwoorde eers in volgende week verwag kan word.
China
Kort na die uitbreking van die virus in Februarie 2010, het China – wat sowat 60% van Suid-Afrika se vet-wol jaarliks gekoop het - invoere gestop.
Viljoen sê ondanks verskeie pogings is dié situasie steeds nie opgelos nie. In 2009 het die Wêreld-Gesondheidsorganisasie ‘n wysiging aan hul protokol gemaak dat dit nie meer nodig is om op ‘n veeartsenykundige sertifikaat aan te dui of Slenkdalkoors in die land van oorsprong voorkom nie.
Die siekte kan nie deur middel van wol versprei nie, of van dier na dier of dier na mens oorgedra word nie.
“China het ook die protokolverandering onderteken, maar hulle het steeds nie hulle eie sertifikate dienooreenkomstig verander nie. Weens die hoë voorkoms van die siekte verlede jaar wou veeartsenydienste later ook nie meer sertifikate onderteken nie, en het die wolbedryf met ‘n redelike kopseer gesit,” vertel Viljoen.
Na verwagting gaan kwarantynbeamptes van China volgende maand Suid-Afrika besoek, en Viljoen sê hulle hoop om die beamptes dan te oortuig om hulle sertifikate in lyn met protokol te bring.
28 Januarie 2011