Die eerste geval van Slenkdalkoors vir 2011 is in Grootbrakrivier naby Mosselbaai gediagnoseer, sê die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
Luidens ‘n verklaring het die Wes-Kaapse Veeartsenykundedienste die voorval bevestig. Die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundedienste is baie bekommerd oor ‘n hernude voorkoms van die siekte ná die reënseisoen in 2011.
Dit volg na die groot uitbraak van verlede jaar waartydens 8500 diere gevrek en 26 mense omgekom het. Die departement raai boere aan om hulle diere betyds in te ent vir dié siekte, en ook om op die uitkyk te wees vir die voorkoms daarvan onder hulle diere.
Die virus
Die virus kom onder skape, bokke, beeste en sommige wild-bokspesies voor. Dit word deur muskiete van dier na dier oorgedra. Die siekte kan lei tot aborsies by skape, bokke en beeste, en dit kan lei tot vrektes onder jong diere.
Die virus kan ook aan mense oorgedra word wat in kontak met die bloed of liggaamsvloeistowwe van geïnfekteerde diere, of met dié diere se karkasse, kom. Die vleis van ‘n siek dier moet ook nie geëet word nie.
Alle voorvalle moet aan ‘n staatsveearts gerapporteer word, en mense wat vermoed dat hulle die virus onder lede het, moet dadelik met hulle geneesheer in verbinding tree.
Entstof?
Intussen sê mnr. Willie Botha, ‘n woordvoerder vir Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP), hulle het baie entsof vir diere in voorraad. “Ons voorrade lyk baie goed vir die lewendige en dooie entstof, en ook vir die nuwe Chloor 13-entstof. As daar vir ‘n dag of twee nie entstof is nie, sal dit bloot wees omdat voorraad uit die pakstore gehaal moet word.”
Botha moedig ook boere aan om hulle diere betyds teen die siekte in te ent. “Ons het baie verkoop teen die einde van verlede jaar, maar vir dié jaar was die verkope nog rustig.”
19 Januarie 2011