Volgens mnr. Albertus van Schalkwyk, voorsitter van die boerevereniging, is ’n bestuurspan saamgestel om seker te maak die hulp wat aangebied word, kan in die rampbehoeftes voorsien tot tyd en wyl die beloofde vergoeding van die myn betaal word. (Sien die kassie hiernaas.) Veral twee boere, mnre. Pieta en Dennis Louw, het erg deurgeloop.
“Pieta Louw het twee kampe wat deur die slik getref is en waarop 60 koeie normaalweg kan loop. Dennis Louw is die hardste getref, hy het 700 ha onder slik en dit is prima-veld. Hy het tot dusver 112 lammers verloor en 40 van sy stoetramme wat ons net nie kan kry nie.
Nagenoeg 40 ooie, wat die basis van sy tweelingtrop gevorm het, het gevrek.” Van Schalkwyk sê die plaaslike gemeenskap het ingespring om die res van die ooie te help was sodat die lammers net aan hul ma’s kan suip.