
Dr. Theo de Jager, voorsitter van die Suider-Afrikaanse Konfederasie van Landbou-unies (Sacau), sê leiers het hulle op ’n Sacau-vergadering in Centurion tot die transformasie van die landbou verbind. Dit was die eerste keer dat die voorsitters en ondervoorsitters uit die streek so byeen gekom het.
Volgens De Jager wil hulle die landbou in die streek só ontwikkel dat ’n produk uit Suider-Afrika teen 2034 sinoniem sal wees met die beste gehalte teen die laagste moontlike prys.
Die streek het goeie grond, klimaat, waterbronne en mense, en dit wat kort, soos infrastruktuur, skakels na markte, toerusting en kundigheid, kan reggestel kan word.
“Politici gaan nie die leiding neem nie, óns moet dit doen,” het De Jager gesê. Volgens mnr. Shalum Shamte, Sacau-ondervoorsitter, móét die landbou verander en moet hierdie transformasie aanvaar word. Dit is ekonomies onvolhoubaar dat 80% van inwoners in die streek by die landbou betrokke is. “Die aantal boere moet minder word en die grootte van boerderye moet groei.”
Shamte, wat van Tanzanië is, sê hy het daar gesien dat ’n kleinskaalse mielieboerdery nie ’n boer uit armoede kan lig nie, selfs nie met die beste saad, kunsmis en chemikalië nie. Die wins is net te klein.
Volgens De Jager was die behoefte aan innoverende finansieringsmoontlikhede een van die kwessies waaroor die leiers gepraat het. Sacau het ’n landboufonds in Mauritius opgerig en die landboumaatskappy Afgri as fondsbestuurder aangestel. Die fyner besonderhede word nog uitgewerk, maar die gedagte is om skenkergeld vir landbouprojekte in die streek deur hierdie fonds te laat gaan.
Die landbouleiers het volgens De Jager ’n lewendige debat gevoer oor die kwessie van buitelanders wat landbougrond verkry. Hy sê dit is belangrik dat sulke projekte vennootskappe met plaaslike inwoners behels. Boere self belê al minder in die landbou en mnr. Ishmael Sunga, hoof uitvoerende beampte van Sacau, is bekommerd hieroor.
Om die landbou aantreklik vir belegging te maak, is politieke en maatskaplike stabiliteit volgens hom egter noodsaaklik. “Om te boer, is ’n lang reis. ’n Mens moet kan vertrou dat dit oor twintig jaar nog goed sal gaan.”