Erge frustrasie heers oor sloerende korporatiewe werkpermitte vir buitelandse werkers, terwyl boere deurloop onder boetes en vervolg word, sê Agri SA.
Me. Elize van der Westhuizen, bestuurder van menslike hulpbronne, sê die wolbedryf ervaar tans ‘n groot probleem. Die bedryf het aansoek gedoen vir 600 permitte vir skaapskeerders afkomstig van Lesotho, maar slegs 22 is toegestaan.
Volgens Van der Westhuisen kan ‘n voornemende werkgewer nie net eenvoudig ‘n aansoek vir ‘n korporatiewe werkspermit vir ‘n buitelandse werker instuur nie. Die aansoeker moet eers bewys dat hy die nodige werker in Suid-Afrika gesoek en die nodige opleiding aan plaaslike werkers verskaf het, maar steeds nie die regte mens vir die werk kon vind nie.
“Vir die een boer is 20 CV’s gestuur van plaaslike mense wat kwalifiseer, en die oggend wat die mense moes opdaag vir die werk, het net een opgedaag. Niemand kan ‘n boerdery só bestuur nie,” vertel Van der Westhuizen.
Mpumalanga en Limpopo
Die provinsies wat tans die meeste probleme ervaar, is Mpumalanga en Limpopo. Mnr. Hennie Laas, uitvoerende hoof van Mpumalanga Landbou, sê van die boere in dié provinsie sukkel al sedert April 2011 om permitte uit die Departement van Buitelandse Sake te kry.
‘n Aansoek moet by dié departement ingehandig word. Van daar word dit na die Departement van Arbeid verwys, wat moet staaf dat iemand plaaslik nie beskikbaar is vir die spesifieke werk nie en wat die aanbeveling vir die permit moet maak.
Laas sê met die departemente wat so sloer is boere genoodsaak om met bedrywighede op hulle plase voort te gaan. Die situasie het al só ver gevorder dat die Polisie op plase opgedaag het en tydelike buitelandse werkers – wat maande op permitte wag – in hegtenis geneem het.
“Dan moet die boer gewoonlik reuse-boetes betaal om die werker uit die tronk te kry. Dus, die boer moet betaal omdat die departement nie sy werk doen nie,” aldus Laas.
Lasbriewe ook al uitgereik
Van der Westhuiszen sê lasbriewe is byvoorbeeld uitgereik vir die inhegtenisname van twee boere wat buitelandse werkers op hulle plase gehad het. Hoewel die een boer dokumentêre bewyse van sy sloerende aansoeke aan die Polisie getoon het, is hy toegesluit. Hy is tans besig met regstappe om die departemente vir onder andere skadevergoeding te dagvaar.
Laas sê hulle het binnekort ‘n vergadering met die nasionale Departement van Arbeid. “Hierdie is ‘n enorme probleem vir boere wat seisoenale werkers moet gebruik. Dis ‘n onwerkbare situasie en niemand kan só boer nie!”
Van der Westhuizen sê as die situasie so voortgaan sal hulle geen keuse hê as om hulle op die direkteur-generaals van die departemente of die betrokke ministers te beroep nie.
“Ek vermoed dat dinge in die toekoms ál hoe moeiliker gaan raak met die nuwe wetgewing wat op die tafel is, en ons sal dié goed vinnig moet aanspreek,” aldus Van der Westhuizen.
3 Mei 2012